Charles Standers, George se uitvoerende burgemeester, het verlede Donderdag die beheersentrum by die George-brandweerstasie vanwaar die kameras beheer sal word, geopen. Nege van die 50 kameras wat geïnstalleer sal word is reeds operasioneel. Die hele geslotekringtelevisie-projek word deur die provinsiale Departement van Vervoer en Publieke Werke befonds en in samewerking met die George-munisipaliteit bestuur.
Standers het in sy openingstoespraak gesê: "Ek wil die nasionale en provinsiale departemente bedank vir hul inisiatief en gepaardgaande finansiële ondersteuning ten einde die droom van so 'n projek te laat realiseer."
Hy het alle veiligheidsagentskappe uitgenooi om met voorstelle vorendag te kom oor hoe om die stelsel in samewerking en met die integrasie van ander projekte te bestuur ten einde die veiligheid van George te verbeter.
"Ons wil die hele George veilig maak vir besoekers en inwoners. Vandag is die begin van een van die projekte om dit te vermag," het hy bygevoeg.
Binne die beheersentrum sal personeel met elke kamera tot sover as 1,5 km kan infokus op 'n voorwerp. Op elke plasmaskerm kan 17 kameras gemonitor word en videobeelde wat opgeneem word kan tot ses maande lank gestoor word.

Portefeulejeraadslid vir gemeeskapsveiligheid, Iona Kritzinger wys hoe die kameras binne die beheerkamer gemonitor sal word.
ARTIKEL EN FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS