Lede van die Outshoorn honde-eenheid, die voertuigidentifiseringseenheid en openbare-orde-polisiëringseenheid (Pops), het die vier verdagtes, wat in twee voertuie was, met militêre presiesheid omsingel en uit die voertuie gehaal en in hegtenis geneem.
Die polisie het gereageer op 'n wenk van 'n lid van die publiek en die twee verdagte voertuie, 'n Nissan X-trail en Toyota Corolla, bo teen die Kaaimanspas ingewag. Hulle was op pad in die rigting na George.
'n Vrou, wat saam met haar man en twee kinders gery het, het aan die George Herald vertel sy het eers gedink dis 'n padblokkade, maar het besef dis meer ernstig toe sy die swaar gewere sien. Die vermeende dwelmsmouse het direk agter die gesin gery.
"Die een polisieman het ons half met die geweer beduie om verby te kom, waarna hulle in die pad gespring en die Nissan X-trail beveel het om te stop. Dit was nogal skrikwekkend, maar die polisie was baie goed en vinnig," vertel die vrou.
'n Vrou wat agter die verdagtes gery het, het vertel hoe die beamptes die motors omsingel het met hul vuurwapens wat op die verdagtes gerig was.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het hulle op albei voertuie asook 375 kg dagga, wat in 18 sakke verpak was, en daggasaad ter waarde van R525 000 beslag gelê wat in die Nissan X-trail gevind is.
Die vier mans van Phillipi in Kaapstad, tussen 28 en 38 jaar, het gister in die George-hof verskyn op aanklag van handel in dwelms.
Die gebiedsbevelvoerder, generaal T Patekile, het die lede bedank vir hul flink optrede en die publiek aangeraai om na vore te kom met inligting wat die polisie kan help om die Suid-Kaap dwelmvry te maak.
* Motorists travelling through the Kaaimans Pass on Monday morning came across a scene resembling a Hollywood action movie when they saw how police armed to the teeth apprehended alleged drug smugglers with military precision and confiscated 375kg dagga and seeds to the value of R525 000. Four men, travelling in two vehicles, were arrested.
Lede van die openbare-orde-polisiëringseenheid (Pops) Maandagoggend op die N2-snelweg naby Far Hills waar vier vermeende dwelmsmouse aangekeer is. Foto's: Malcolm Pojie
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'