Update
Beserings het gewissel van gering tot ernstig ná 'n drie-voertuig-ongeluk Maandagoggend kort na 08:00 op die R102 (lughawepad) waarin sewe mense betrokke was. Drie van die pasiënte het ernstige beserings opgedoen en die ander vier slegs geringe tot matige beserings.
Volgens 'n direkteur van Stelprag Boerdery, Abi Stander, wie se Isuzu ook in die botsing betrokke was, was sy voertuig onderweg in die rigting na die lughawe toe 'n BMW-stasiewa vanuit die rigting van die lughawe 'n stilstaande Ford Bantam-bakkie van agter tref.
"Die Bantam het stilgestaan in die pad want hy wou afdraai na die Outeniqua Palms-kwekery toe die BMW hom van agter tref. Die Bantam en die BMW het getol en albei het my bakkie, wat in die aankomende baan was, getref. Dalk kon die bestuurder van die BMW nie die Bantam sien weens die verblindende son nie. Ek weet nie, maar gelukkig is niemand dood nie," het hy aan die George Herald gesê.
Toe ER24-paramedici op die toneel aangekom het, het albei bakkies langs die pad gestaan en die BMW was in die linkerbaan. Ses pasiënte is na die Mediclinic George geneem en die bestuurder van die BMW na George-hospitaal.
Vier van die vyf Stelprag-werkers wat op die Isuzu was, was teen Maandagmiddag reeds ontslaan. Een was nog in die hospitaal met 'n gebreekte femur en die bestuurder van die Bantam was nog in die Mediclinic se hoësorgeenheid. Teen druktyd is daar nog nie inligting oor die ander pasiënt ontvang nie.
Die BMW het die Ford Bantam-bakkie van agter getref. Albei was onderweg uit die rigting van die lughawe na George. Foto's: Elaine Swanepoel
Die Bantam-bakkie word deur 'n insleepdiens van die toneel verwyder. Foto: Elaine Swanepoel
Stelprag Boerdery se Isuzu-bakkie wat in die ongeluk betrokke was. Foto: ER24
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'