Update
GEORGE NUUS - Die man in Thembalethu wat op 'n aanklag van dieremishandeling in hegtenis geneem en skuldig bevind is, Lindile Gibe (21), is op Maandag 11 November in die Thembalethu-streekhof slegs 'n opgeskorte vonnis opgelê.
Gibe is in Junie vanjaar in hegtenis geneem in verband met die wrede dood van 'n teefhond in Zone 9.
Met hulle aankoms op die toneel het Tuinroete DBV-veldinspekteur, Vanessa Lucas en bestuurder Salomé Bruyns, die hond dood aangetref. Gedeeltes van haar vel en haar linkerbeen was reeds verwyder en haar keel was afgesny.
Bruyns en Lucas het die liggaam van die hond en haar agt lewende kleintjies verwyder en na die DBV geneem.
'n Saak van dieremishandeling is geopen en Gibe is die volgende dag in hegtenis geneem. Die hondjies is sedertdien almal aangeneem.
Gibe, wat sedert sy inhegtenisname in Junie in aanhouding was, is op 16 Oktober skuldig bevind aan dieremishandeling. Verlede Maandag is hy deur landdros Nelson Malaudzi 'n boete van R3 000 of 12 maande tronkstraf, wat in geheel opgeskort is vir drie jaar, in die Thembalethu-streekhof opgelê.
By navraag het Bruyns aan die George Herald gesê dat hoewel die vonnis nie swaar is nie, dit steeds 'n skuldigbevinding is en die beskuldigde nou 'n kriminele rekord het.
"Ek hoop dit stuur 'n boodskap uit aan die mense wat diere mishandel. Ek het die saak in Junie vanjaar geopen. Dis November en dit is afgehandel. Julle weet self, ons sit met sake wat al jare lank sloer sonder enige resultate."
Polisie en omstanders op die toneel in Thembalethu, Zone 9.
Lees 'n vorige artikel: Man found guilty after 'skinning' dog
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'