GEORGE NUUS - 'n Kerkgroep van die Kerk van die Nuwe Testament in Pacaltsdorp het groot planne vir hul gemeenskap. Hulle jongste projek behels die oortrek van skoolboeke vir behoeftige kinders van Syferfontein, Rosedale en Reigerpark ('n nuwe uitbreiding naby Rosedale).
Een van die lidmate, Maggie Damons, is 'n voormalige suster van George-hospitaal wat al vir die Cecilia Makiwane-toekenning genomineer is.
Damons en haar groepie wil die breër gemeenskap van George uitdaag om betrokke te raak met eenvoudige projekte by skole in voorheen benadeelde gebiede.
"Na 33 jaar in verpleging voel ek ons moet iets doen vir die gemeenskap. Ons wil mense inspireer om dieselfde te doen," het sy gesê.
"Ons is deurentyd besig met 'n voeding-skema in sekere areas en einde verlede jaar het ons geskenkpakkies vir die kinders gegee. Nou fokus ons op skoolboeke."
Die groep se mikpunt is om deur gemeen-skapswerk jong kinders en hul ouers te teiken.
"Ons het besluit op die skoolboeke, want sommige kinders se boeke is nie oorgetrek nie. Daar is eenvoudig nie geld nie, en dit laat hulle minderwaardig voel. Ons wil 'n trots by al ons kinders kweek," het sy gesê.
Volgens Damons beplan haar kerkgroep om volgende week om die beurt van Dinsdag tot Donderdag 'n gazebo in die drie areas op te slaan, waarheen kinders kan kom om hul boeke oor te trek.
"Ons het 'n lys van name by die skole ontvang en hierdie kinders sal uitgenooi word om ons na skool te besoek," het sy gesê. "Ons het van die ouer kinders in die skole gevra om te help met die uitreikaksie. Sodoende ploeg hulle terug in hul eie gemeenskappe."
Vir meer inligting kontak Maggie Damons by 078 701 7539 of stuur 'n e-pos na darciadamons@gmail.com.
Gereed vir boeke oortrek is van links: John Williams, Francois Michaels, pastoor Danny Damons, Maggie Damons, Maria Blaauw, René Lindoor, Annie Arends, Abrian Booysen, Elizma van Vugt en haar ma, Baronece van Vugt.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'