GEORGE NUUS - Al het duisende matrieks van 2019 'n matrieksertifikaat in die hand, is dit 'n opdraande stryd om werk te kry. Arbeidskenners is dit eens dat dit baie moeilik is om werk te kry as 'n werksoeker nie oor een of ander naskoolse opleiding beskik nie. Maar daar is hoop.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer en mededirekteur van Alfa&Omega NBS, het Maandag gesê skoolverlaters moet poog om minstens een of ander naskoolse kwalifikasie te bekom. Dit is ook belangrik wat iemand studeer en wat hy/sy se bedoeling met die studie is.
As iemand 'n naskoolse kwalifikasie verwerf moet hul poog om te spesialiseer in 'n rigting wat die kritiese tekort aan vaardighede aanspreek.
Sy advies aan mense wat nie studeer het nie en in 'n werksplek instap is dat hul gesindheid en werketiek reg moet wees.
Volgens hom is daar werksgeleenthede. In George is daar 'n vraag na byvoorbeeld verkoopsmense, administratiewe personeel, junior bestuur, mense in die gasvryheidsbedryf en ook 'n groeiende vraag vir mense wat bejaarde sorg en steun kan toepas.
Hy benadruk as iemand 'n werk gekry het, sal hy/sy nie op hul louere kan rus nie. Die individu sal hom/haarself voortdurend moet verbeter.
Jongmense moet geleenthede vir hulself skep. Die sakekamer moedig leerlinge wat nie gr. 12 geslaag het nie aan om nie terug te sit nie. Druk deur en poog om matriek te maak.
Yvette Meyer
Yvette Meyer, eienaar van South Cape Recruitment het gesê dit is baie moeilik vir jongmense om werk te bekom. Haar advies aan matrieks is om verder te studeer as dit moontlik is.
Iemand hoef nie oor 'n graad te beskik om 'n werk te kry nie.
Voltooi byvoorbeeld 'n ambag soos 'n loodgieterskap en begin jou eie sakeonderneming.
Sy wil hê skole moet leerlinge inlig oor geleenthede in die beroepsveld en die verskillende studierigtings.
Maatskappye en instansies in George moet oorweeg om internskappe in te stel. So sal iemand vaardighede leer en ondervinding opdoen.
Sharon Keune, eienaar van Vivid Staffing Solutions het gesê die laaste tyd is dit 'n baie moeilike ekonomiese omgewing. Afleggings het plaasgevind.
Werksgeleenthede in die landelike gebiede is skaars. Klein sakeondernemings is ook onder verdere druk as gevolg van beurtkrag.
Haar advies aan jongmense is om pro-aktief te wees en byvoorbeeld webtuistes van maatskappye of instansies te besoek. Dit is ook belangrik dat iemand passievol sal wees oor dit wat hulle wil doen.
Sharon Keune
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'