GEORGE NUUS - Die benadering van selfverryking in die land sal moet verander na werklike ekonomiese opheffing. So sê dr. Franklin Sonn, 'n voormalige Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika en bekende sakeleier.
Hy was in die verlede een van die groot steunpilare in die stryd teen apartheid en was ook een van die eerste mense om wyle pres. Nelson Mandela te ontmoet kort na sy vrylating op 11 Februarie 1990.
Die 81-jarige Sonn het openhartig met George Herald gesels oor die uitdagings waarmee Suid-Afrikaners deesdae te doen kry en die kommer oor die vlak van korrupsie in die land.
Hy en sy eggenoot, Joan, woon deesdae in George en hy is besig om sy gedagtes agtermekaar te kry met die oog op 'n outobiografie. Hy geniet sy aftrede, maar maak hom nie los van die werklikhede van Suid-Afrika nie.
Sonn benadruk dat in sy loopbaan van meer as 50 jaar in die openbare kollig, hy nog nooit aktief lid van enige politieke party was nie. Hy deel Suid-Afrikaners se kommer oor korrupsie, maar benadruk daar moet vorentoe gekyk word.
Dr. Franklin Sonn en sy eggenoot, Joan. Foto: Eugene Gunning
Nieteenstaande die huidige uitdagings en Covid-19, is hy optimisties oor die toekoms.
"Dis 'n avontuur om 'n Suid-Afrikaner te wees." In die verlede was daar al van die vroegste tye in die land se geskiedenis konflik en daarna weer versoening. "Die land was al dikwels op 'n mespunt en elke keer het die goeie geseëvier."
Daar is dinge soos byvoorbeeld die hebsug en vraatsugtigheid onder sommige politieke leiers wat kommer wek. Dit het die arm swart en bruin mense ongedaan gelaat. Daar is nie werklik 'n poging om die armste van die armes te help nie. Hy glo ook dat daar staatslui is wat nie meer hul werk as 'n roeping sien nie.
In die verlede was apartheid boos, maar dit het nou 'n ander kleur begin aanneem - selfverryking ten koste van die bevryde menigte.
Om vorentoe te beweeg sal almal opofferings moet maak en mededeelsaam moet wees. Daar kan nie verwag word dat die armste van die armes vir ewig leef soos hulle nou leef nie.
Dr. Franklin Sonn saam met Nkosiyethu Nongindzi wat hom hom help met sy tuin by Fancourt. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'