GEORGE NUUS - Verteenwoordigers van die sakegemeenskap het dit verwelkom dat die George-lughawe weer oop is.
Eienaars van plaaslike ondernemings het aangedui dat hulle reeds direkte voordeel daaruit trek. Die eerste kommersiële vlug in maande het verlede Vrydag, 24 Julie, weer geland.
Hein Pretorius, medevennoot van Warthog Blade Sharpeners, het gesê dit help beslis dat die lughawe weer oop is. Die maatskappy maak baie gebruik van lugvrag. "Baie van ons komponente word op 'n daaglikse basis van laboratoriums en vervaardigers in Johannesburg per lugvervoer hierheen gebring."
Die maatskappy voer ook uit en dit sluit lande soos Amerika, Kanada, Engeland, Duitsland, Frankryk, Italië, Rusland en Australië in.
Volgens Gavin Linsley-Noakes, mede-eienaar van PHC Berries, is dit effens makliker noudat die lughawe weer oop is. "Ons kan kliënte in ander dele van die land gaan besoek."
Vlugte is egter nog beperk en as hulle van lugvrag gebruik wil maak moet hulle dit deur Oliver Thambo in Gauteng doen. Dit beteken twee dae ekstra vervoer. Die vrag moet eers per pad geneem word wat 'n dag en half neem, en dan is dit nog 'n dag ekstra voordat dit in die buiteland is.
Kemp Myburgh, wat met proteas en speldekussings op sy plaas, Florburgh Proteas boer, het gesê dit maak dinge makliker. "Ons het nou toegang tot Oliver Thambo-lughawe. Dit beteken ook verbeterde toegang tot die Johannesburgse blommeveiling. Daar is duidelik 'n oplewing in pryse."
Volgens hom help dit ook om goedere wat hulle dringend benodig vinniger hier te kry.
Nic Brummer, 'n aandeelhouer van Meyer Zall Laboratories verwelkom die oopstel van die lughawe heelhartig. As die lughawe gesluit is ondermyn dit die ekonomie.
Meyer Zall is 'n farmaseutiese maatskappy en vervaardig produkte in ander dele van die land wat eers hierheen gestuur word om in 'n laboratorium getoets te word. Gewoonlik word dit per vliegtuig hierheen gebring. As dit per pad gedoen word, neem dit langer en uiteindelik beteken dit dat dit langer neem voordat die produk in die mark geplaas kan word.
Ingrid Cronjé, uitvoerende hoof van die George-sakekamer, het gesê die amptelike oopstelling sal help om sakevertroue te laat styg. Daar word gehoop dat al die groot lugdienste in die nabye toekoms meer gereeld vlugte na George sal hervat.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, sê die oopstel help, maar daar is nog 'n bietjie onsekerheid oor spesifieke vlugte. "Ons hoop dat vlugte op 'n gereelde basis ingestel sal word. Dit sal die streek help. George is die toegangsroete vir die streek se ekonomie."
Volgens hom moet ook in gedagte gehou word dat daar mense is wat op 'n weeklikse basis tussen George en Gauteng pendel. "Die oopstel van die lughawe maak dit nou makliker vir hulle."
The reopening of George Airport is welcomed by business leaders, who say the resuming of air freight is an immediate boost for businesses. Hope was expressed that tourist flights might also be allowed soon.
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'