GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-polisie is op soek na twee gewapende mans ná 'n rooftog by 'n spaza-winkel in Bluegumstraat gisteroggend, Woensdag 10 Maart.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die voorval bevestig en gesê hulle ondersoek 'n saak van gewapende roof en ontvoering.
"Voorlopige inligting dui daarop dat die slagoffer omstreeks 09:00 besig was om brood by die winkel af te lewer toe hy deur twee onbekende verdagtes met klapmusse aangekeer is. Een van die verdagtes het die slagoffer met 'n vuurwapen gedreig waarna hulle hom terug in die vragmotor gedwing het," sê Pojie.
Daarna het hulle hom glo opdrag gegee om na Willowstraat, wat by Bluegumstraat aansluit, te ry en hom van 'n onbekende bedrag kontant beroof.
Volgens Pojie het die verdagtes glo daarna uit die voertuig gespring en te voet in die bosse verdwyn.
Een van die verdagtes was geklee in 'n swart T-hemp en swart hoed, terwyl die ander 'n rooi pet aangehad het. Pojie sê albei kan glo goed Afrikaans praat.
Enigiemand met inligting word gevra om die ondersoekbeampte, ao. Rondganger by 044 803 9130 of 079 894 1589 te kontak. Stop Misdaad kan ook by 08600 10111 geskakel word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'