TUINROETE NUUS - Die sluiting van die bekende Turnberry Boutique Hotel is die einde van 'n bekende instelling, maar ook die begin van iets nuuts, sê Niel Els, mede-eienaar. Dié hotel word volgende Vrydag, 29 Januarie, in geheel met inhoud opgeveil.
"Ons het geen ander keuse nie," het Els, besturende direkteur en mede-eienaar van die hotel, Dinsdagoggend gesê terwyl hy vir die afslaer gewag het wat die hotel ter voorbereiding van die veiling sou besoek.
"Met die afkondiging van die inperking verlede jaar het ons sedert 23 Maart geen gaste ontvang nie. Die hotel met sy 22 kamers en kapasiteit vir 60 mense, die konferensie gedeelte, restaurant en kroeg was dolleeg. Dit het tot reuseverliese gelei."
Volgens Els bestaan 95% van hulle besigheid uit buitelandse besoekers en selfs die oorblywende 5% binnelandse besoekers gaan gepaard met groot geleenthede soos die KKNK en sportgeleenthede wat ook nie met die inperking plaasgevind het nie.
Turnberry het in 2007 as Kannaland Lodge oopgemaak en Els is sedert 2010 by die onderneming betrokke.
Niel Els, besturende direkteur en mede-eienaar van Turnberry Boutique Hotel.
"Die groot bekommernis wat my snags laat wakkerlê is die lot van ons personeel. Van die oorspronklike 14 is daar tans net sewe oor en selfs hulle het net nou en dan ingekom toe ons met die vlak 2-inperking enkele gaste gekry het."
Els sê die gebou het enorme potensiaal vir voornemende kopers.
In antwoord op 'n vraag oor die toekoms van besighede en toerisme in Oudtshoorn vir 2021, sê Els: "Ons sal ons manier van besigheid doen heeltemal moet aanpas. Besighede sal moet leer om baie slim te boks as hulle hierdie geveg wil oorleef."
Hy sê dit is buitensporig duur om 'n onderneming in die gasvryheidsbedryf in Oudtshoorn winsgewend te bestuur.
Die koste om 'n hotel in Oudtshoorn te bedryf is uit verhouding ook duurder as ander plekke as gevolg van die hoë tariewe en belasting wat ons betaal," sê hy en voeg ook by dat die gedurige konflik en politiekery in die munisipaliteit die kwessie vererger.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'