Daar word beweer dat mnr. Athony Ewerts die bestuurder was van ‘n grys Nissan X-Trail wat Saterdag net na 16:00 van agteraf teen ‘n geparkeerde dubbelkajuitbakkie in Voortrekkerstraat gebots het.
Die bakkie behoort aan ao. Nico Basson en was geparkeer reg voor die Uniondale polisiekantoor.
Ewerts en vier ander persone, almal van Uniondale, was glo in die X-Trail.
‘n Vrou, ene Anthea Human het voor in Ewerts se motor gesit en moes met meganiese kake bevry word. Sy is in ‘n ernstige toestand na die hospitaal geneem en is later na die George-hospitaal oorgeplaas waar sy tans aansterk.
Die ander passasiers was na wat verneem word me. Natasha Klaasen van Paul Venterlaan 1, me. Bonita Kleinbooi van Daniëls-laan 63 en mnr. Steve Remano Esau van Oxfordstraat 71.
Daar word ook beweer dat hulle soos Ewerts stil-stil van die toneel af sou verdwyn het nog voordat die polisie met hulle kon praat. Hulle is wel later opgespoor.
Volgens ‘n ooggetuie op die toneel het die bestuurder van ‘n groen Nissan X-Trail met registrasienommer CBS 11632 drankbottels uit Ewerts se voertuig verwyder en dit "in sakke geprop en in sy voertuig gesit".
Toe die ooggetuie die man daaroor uitvra het hy vir die persoon gesê dit het niks met die persoon of die ongeluk te doen nie.
Ewerts was in Uniondale vir die Eden-distriksmunisipaliteit se veldtog, Oorlog teen Armoede.
Eden-burgemeester Faried Stemmet het Dinsdag uit Durban gesê die amptelike verrigtinge het Saterdagoggend in Haarlem naby Uniondale begin.
Teen 14:00 is hulle na die Lyonville-gemeenskapsaal en het daarna huisbesoeke gedoen en kospakkies in die dorp uitgedeel. Daarna het hulle met die bejaardes van die dorp, sowat 100 meter van waar die ongeluk gebeur het, vergader.
Dit blyk ook dat Ewerts se motorlisensie reeds op 31 Maart vanjaar verval het.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur. "Sodra die ondersoek voltooi is, sal die dossier aan die senior staatsaanklaer voorgelê word vir beslissing," het hy gesê.
Ewerts is om kommentaar genader, maar geen reaksie is teen saktyd ontvang nie.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA

Ewerts se grys Nissan X-Trail na die botsing.