Video
GEORGE NUUS - Syferfontein kry 'n oefenveld waar kinders en jeugdiges na hartelus kan rugby en sokker speel. Ofskoon George-munisipaliteit aanvanklik nie kans gesien het vir die projek nie, het hulle tog ingespring en betrokke geraak.
Syferfonteiners het verlede Desember begin om self bosse op 'n stuk grond langs die plakkerskamp te verwyder.
James Smith, 'n gemeenskapslid, het 'n versoek om hulp aan die munisipaliteit gerig, om die grond gelyk te maak sodat die kinders nie hulself beseer wanneer hulle balsport beoefen nie.
Terugvoer van George-munisipaliteit het aanvanklik daarop gedui dat die area nie geskik is vir die oprigting van 'n sportveld nie. Groot was almal se verbasing toe 'n kontrakteur begin om dié speelveld gelyk te maak.Granville Campher, munisipale sportbestuurder, het gesê werkers gebruik nou 'n baie ligter masjien om die veld gelyk te maak. "Die veld voldoen nie aan die normale standaarde van 'n sportveld nie, maar dit sal voldoende wees as 'n interim reëling vir die Syferfontein-gemeenskap," het hy gesê. "Die jeug kan die speelveld gebruik vir sportaktiwiteite en kan dan volwaardige wedstryde op die Pacaltsdorp-sportveld speel."
Volgens Walter Hendricks, direkteur van gemeenskapsdienste, is die idee om 'n gelyke area, so groot as moontlik, met 'n voorlaaier te skep. Die koste van sowat R23 000 word deur die afdeling vir sportontwikkeling se operasionele begroting gedek. "Ons het na maniere gekyk hoe ons kan help om die gemeenskap van Syferfontein by te staan met die skep van 'n veilige omgewing vir rekreasie," het Hendricks gesê.
Smith het by navraag gesê hy is baie dankbaar vir wat tot dusver gedoen is, maar hy hoop die spesifikasies wat hy gekommunikeer het, sal in ag geneem word. "Daar is nog heelwat wat gedoen moet word. Ek hoop na harte hulle slaan ag op ons versoeke, anders kan daar later probleme ontstaan met onder meer die opdam van water op sekere areas," het Smith gesê.
Intussen is die opwinding groot want Syferfontein se o.19-rugbyspan, die Untouchable Rabbits, het verlede Saterdag
3 Maart hul eerste wedstryd teen 'n span van Hoërskool Pacaltsdorp by die Pacaltsdorp-sportterrein gespeel. "Drome gaan op hierdie oefenveld bewaarheid word. Dit is waar alles gaan gebeur," het Smith gesê.
Kyk 'n video hieronder.
Die oefenveld word gelyk gemaak sodat Syferfonteiners op Saterdae kan sport beoefen.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'