GEORGE NUUS - Klein Ruveshni Lewis (6) van George het so drie weke gelede 'n baanbreker hartoperasie by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ondergaan wat haar lewe heeltemal kan verander. Ruveshni is gebore met net een werkende hartkamer (ventrikel), wat veroorsaak het dat haar hart nie suurstofarm bloed na haar longe kon terugpomp nie.
Haar ma, Justine Lewis, het gister aan die George Herald gesê dis 'n lang pad wat hulle tot hier gestap het.
"Sy was twee dae oud toe die defek ontdek is. Ons is toe aangeraai om Kaap toe te gaan vir spesialisbehandeling."
Lewis vertel Ruveshni het reeds vyf operasies gehad, waarvan die laaste nou haar lewe kan verander. 'n Reguleerder is nou in haar long gesit wat die vloei van die bloed reguleer. Die nuwe toestel wat ingeplant is, is in Swede ontwerp en nog nie eens op die mark nie. Dit word tans in Europa geregistreer en is gratis deur die hospitaal verkry as 'n welwillendheidsgebaar.
Ruveshni is ook die jongste pasiënt en die eerste in Afrika wat die prosedure ondergaan het en dit is slegs die derde keer in die wêreld dat dokters dit doen, vertel Justine.
Lewis sê die afgelope ses maande was 'n stresvolle periode omdat hulle moes wag vir goedkeuring vir die operasie. Hulle was ook die afgelope drie maande reeds in Kaapstad by die Rooikruis-kinderhospitaal waar die prosedure gedoen is. Volgens Lewis kan sy reeds 'n verandering aan Ruveshni sien. "Sy het nie baie eetlus gehad nie en was altyd hardlywig as gevolg van die klomp medikasie. Nou is my kind meer aktief en sy eet beter."
Omdat Lewis heeltyd by haar kind by die hospitaal moes wees, het sy vir haar 'n daaglikse roetine uitgewerk. "Ek gaan stap as sy slaap of lees 'n boek of sit en luister na musiek." Sy sien egter uit om tuis te wees omdat sy twee jonger seuns by die huis het.
Sy sê daar is tans 'n drein in Ruveshni se long om die vloeistof te dreineer.
"Dit het vanoggend (Woensdag) weer uitgeval en hulle moes haar weer teater toe vat."
Volgens Justine sê die dokters dat Ruveshni dalk einde van die week huis toe kan gaan, maar dit hang van haar vordering af.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'