Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die George-kunsteteater bly vir eers oop. Dit is Dinsdag deur Bernie Schaap, bestuurder van die teater, bevestig. Dit het die afgelope tyd gegons toe dit bekend geword het dat die teater se deure dalk sal moet sluit.
Weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls is daar laas in Maart openbare vertonings gehou en is die teater nou onder groot finansiële druk. Die teater maak nou gereed om sy eerste produksie sedert Maart, op 16 Oktober op die planke te hê.
'n Nuwe komitee is onlangs gekies en het Maandagaand die eerste keer vergader. Die meeste van die komiteelede is nuut en die nuwe voorsitter is Reneé van Rensburg. Schaap het gesê hulle verwelkom die nuwe bloed.
Sedert dit bekend geword het dat hulle dalk sal moet sluit, is 'n aansienlike bedrag geld ingesamel, maar dit is nog nie genoeg nie. "Ons is nog nie waar ons moet wees nie."
Verskeie produksies is in die pyplyn en dit skop af op 16 Oktober met 'n gala-aand waartydens Clue aangebied sal word. Die speelvlak is 25 Oktober. Kaartjies is reeds beskikbaar.
Op 6 en 7 November word Dancing of the Arts aangebied. Van die ander produksies is Varieté Varieté wat van 26 tot 29 November aangebied en Wizard of Oz wat in Desember aan die beurt kom. 'n Barnyard-konsert word ook in Desember gehou.
Op Oujaarsdagaand, 31 Desember, word Dinner for 54321 aangebied.
Kyk 'n video hieronder:
Schaap het benadruk hulle het baie planne. "Ons is baie hoopvol en sal so lank moontlik oopbly." As gevolg van die inperkingsmaatreëls op vlak 1 mag net 50% van die kapasiteit toegelaat word. Dit beteken dat 108 mense geleenthede mag bywoon. Daar is egter planne om van die produksies aanlyn te stroom.
Die fonsinsamleingsveldtogte soos 'Rand 'n tand' en 'Save the theatre' gaan voort. "Ons is baie dankbaar teenoor die publiek vir elke sent wat hulle gee. Elke druppel in die emmer help. Sonder die publiek se hulp sou ons nie kon aangaan nie. Dis 'n gemeenskapssteater en die meeste mense is betrokke ter wille van die liefde van die saak."
Volgens haar moet mense onthou watter belangrike rol die kunste speel in 'n gemeenskap. "As jy kuns verloor, verloor jy hoop. As jy hoop verloor, verloor jy alles."
Die nuwe komitee van die George-kunsteteater. Agter, van links: Chrisma Theron, Arno du Randt, Anastasie du Toit, Reneé van Rensburg (voorsitter) en Carel Nouton (visevoorsitter). Voor: Simz Dambuza, Elize Britz, Simoné Kleynhans (sekretaresse) Madie Calitz en Cindi Prinsloo (tesourier).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'