GEORGE NUUS - George Burgemeester, rdh. Melvin Naik, het Woensdag saam met raadslede, amptenare en lede van die gemeenskap die sooi gespit as die seremoniële begin van ‘n nuwe behuisingsontwikkeling by Golden Valley, Blanco.
Die mense het die koue getrotseer om die geskiedkundige oomblik by te woon. Mnr. Johannes Williams, van die Blanco-gemeenskap het die seremonie met gebed en ‘n kort boodskap geopen.
Rdh. Naik het gesê die munisipaliteit sal beslis toesien dat die kontrakteurs in Blanco werk kry in die projek. Hy het ook gemaan dat die sukses van die projek grootliks afhang van die samewerking tussen die gemeenskap en die kontrakteurs. Hy het beloof weer formeel die eerste huis in die projek oor te gee.
Rdl. Jean Säfers, Wyksraadslid van Wyk 1, het die gemeenskap gevra om self om te sien na die projek en om materiale op die terrein op te pas. Hy het ook belowe dat Blanco se mense self op die projek sal werk.
Mnr. Charles Lubbe, Direkteur van Behuising, het gesê, die George Munisipaliteit strewe om alle informele nedersettings binne sy grense te verander in meer formele behuising, om mense se lewensomstandighede te verbeter. Die Raad het besluit om die plaas 216/3 aangrensend tot Golden Valley aan te koop om sodoende 'n behuisingsontwikkeling daar te stel om alle inwoners van die 6 informele nedersettings in Blanco te akkommodeer. Daar is in totaal 104 gesinne. Die balans van die behuisingsgeleenthede word aan persone van Blanco in terme van die toekenningsbeleid toegeken.
Die Golden Valley projek bestaan uit 165 behuisingsgeleenthede.
Rdh. Melvin Naik (middel) spit die seremoniele sooi by die Blanco behuisingsprojek in Golden Valley met amptenary, raadslede en die gemeenskap rondom hom.
Lubbe het gesê, wat hierdie projek so uniek maak is dat die projek ook voorsiening gaan maak vir gesinne wie se inkomste R3 500 per maand oorskry. “Daar gaan 140 topstrukture gebou word vir persone wat minder as R3 500 verdien en 25 gedienste erwe vir persone jonger as 35 jaar en gesinne wie se inkomste R3500 oorskry. 'n Twee slaapkamer 45m2 huis gaan gebou word met elektrisiteit en warm water.
Twee kontrakteurs, PHP Supplies en Makhara Holdings is aangestel om die 140 top strukture te bou. Konstruksie sal eersdaag begin sodra alle formele prossesse afgehandel is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'