Buitelugaktiwiteite in Nieu-Seeland is ‘n moet. Mens kan nie in hierdie land bly, en nie die een of ander lus of gier kry om iets in die buitelug te doen nie.
Natuurlik praat ek nou van die somer! Dit is net die mees geharde Kiewiete en die skiërs wat hoegenaamd hulle buitelugaktiwiteite in die winter voortsit!
Die see, riviere, mere en strandmere leen hulle absoluut vir kayak, branderry, lyfplankry, of die nuutste craze, om op iets soortgelyk aan ‘n branderplank te staan en roei. Dit lyk vir my verskriklik ongemaklik, maar ek gun elke diertjie sy plesiertjie.
Baie van ons vriende het kayakke. Ons het nie - nog nie - maar leen so af en toe iemand s’n wat weggaan met vakansie.
Natuurlik kan mens in Suid-Afrika ook kayak en al die ander wonderlike wateraktiwiteite beoefen, maar hier is dit net soveel meer toeganklik, soveel makliker, soveel meer die "in-ding" om te doen.
Riviere is my gunsteling, hulle kronkel en jy kan myle en myle roei tussen "lifestyles" en plase en huise, dis wonderlik!
Nou die dag gaan roei ons by Waimarino, seker so 10km van ons af, en jou wraggies waar, daar teen die oewer is ‘n vasmeerplek, ‘n braaiplek, ‘n tafeltjie en bankies.
Natuurlik het ons die koelsak ingesit, so ons het afgetrek en heerlik gepiekniek en ek dink by myself: "Life doesn’t get any better than this".
Daar is staproetes ook - kortes, langes en middelmatiges. Daar is nie ‘n enkele slang nie en net een giftige spinnekop sover - die gevreesde Australiaanse White Tail.
Jy gaan nie dood van sy byt nie, maar die vel rondom raak septies. Mense het al ledemate verloor.
Ons het twee keer gaan ski. Die eerste keer was in die winter by Whakapappa (die "wh" spreek mens uit as ‘n "f"). Dit was baie koud. Die lekker deel van die eks-kursie was toe ons gaan stap en dit begin sneeu het. Dit is sprokiesmooi en baie romanies! Die hele landskap verander binne ‘n oogwink. Die onaangename (en vir my - vreesaanjaende) deel van die uitstappie was toe my kuite só gekramp het van die ski-stewels dat ek glad nie ons ski-les kon geniet nie. Ons is ook met een van die kabelstoeltjies op met die berg vir ‘n skilderagtige rit. Skilderagtig se voet! Dit het gesneeu (-3ºC) en die wind het gewaai, so die stoel het geskommel. En natuurlik is jy ve....r van die grond af. Ek het my beanie oor my gesig getrek en gewens ek was terug op moeder aarde. Nie weer nie!
Die tweede keer was by Ohakune in die lente, aan die einde van die ski-seisoen toe die sneeu al begin smelt. Ons het nie toe geski nie, net gaan stap en in die restaurant gesit en kyk hoe die ander ski. Dis lekker om veral die kinders dop te hou wat nog die gawe het om hulleself heeltemal te vergeet en nie ‘n bang haar op die kop het nie. Een van hulle het ‘n man se bene letterlik onder hom uitgeski.
Dis ‘n groot ding onder die Suid-Afrika-ners om te gaan ski - dit is maklik, toegangklik, redelik bekostigbaar en die ideale wegbreek van al jou kwellinge, dit voel letterlik of jy in ‘n ander wêreld is.
.jpg)
Kersdag by Lake Okataina, een van die baie plekke in die Bay of Plenty wat ideaal is vir kayak.