Update
GEORGE NUUS - Die twee kampusse van die Suid-Kaap Kollege in George was Maandag- en Dinsdagoggend in rep en roer oor beursgelde wat nie uitbetaal is nie.
Studente het van die kampus in Hiberniastraat na die hoofkantoor in Mitchellstraat gestap waar hulle met die bestuur probeer onderhandel het. Hulle is later terug na die kampus waar hulle Maandag toegespreek is nadat hulle probeer het om die kampus se ingang af te sper.
George Herald het met 'n leerderverteenwoordiger gesels, en finansies was die groot kwessie. Volgens die verteenwoordiger is hulle ontsteld dat hul beursgelde nie uitbetaal is nie.
Studente moes weer aansoek doen en weer al die dokumentasie, en nié afdrukke nie, aan die kollege gee. "Ons oumas het nie geld om uit die lokasie tot in die dorp te ry om dokumente te stuur nie," het een van die studente gesê.
Die studente sê hulle moet huur- en vervoergeld betaal, maar kan dit nie doen as die beursuitbetaling nie gedoen word nie. Wat hulle verder kwel is dat sekere studente meer geld as ander kry, of nooit dieselfde bedrag geld kry nie. Nog iets wat hulle pla is beursgelde wat glo weerhou word omdat studente nie 'n sekere persentasie in hulle vakke en vir klasbywoning behaal nie.
"Dis hoekom ons die geld in ons eie bankrekeninge wil hê. Ons moet dit aan die einde van die dag self terugbetaal - so gee ons geld," het nog 'n student gesê.
Studente sê ook die kollege maak nou of hulle geen verantwoordelikheid het in die blykbare 'wegraak' van beursvorms en dokumente nie. Die studente vertel hulle moes selfs met een verkeerde spelfout, daardie vorms van voor af invul.
Cameron Jantjies sê hy ry daagliks tussen Knysna en George en dit kos hom 'n R100 per dag. "Ek moes ses ure in die lyn vir beurse staan net om uit te vind ek kort nog 'n vorm." Volgens hom het dit vir drie weke so aangegaan.
Teen laat Maandagmiddag, toe die studente nog steeds die ingang blokkeer, is die polisie gebel. Klagtes was glo dat hulle die lektore as gyselaars aanhou.
Studente steeds ontsteld oor die kollege glo nie hul beursgelde wil uitbetaal nie.
Die Suid-Kaap Kollege se bestuur het Maandag hul studente toegespreek oor kwessies rondom beursgelde.
Fezeka Silala sê as die kollege nie vir Elsie Potgieter, die hoof, elders stilletjies laat uitglip het nie, sou hulle nooit die lektore teen hul wil daar gehou het deur die ingang te blokkeer nie. Silala en haar medestudente het weer Dinsdagoggend na die hoofkantoor opgeruk en die polisie is weer ontbied. Die groep studente is toe met polisiebegeleiding terug kampus toe waar hulle glo weer met die bestuur sou gesels.
Studente meen as dit die tipe probleme is wat hulle reeds vroeg in die jaar het, dan moet die kollege nie studente uit die Oos-Kaap en elders werf nie. Hulle meen die kollege moes geweet het dat studente van buite, akkommodasie en vervoeronkostes sou beteken.
Potgieter het gisteroggend in 'n persverklaring aan die George Herald gesê die eerste toelae is op 22 Februarie betaal. "Dit het ongelukkig nie almal wat aansoek gedoen en gekwalifiseer het, ingesluit nie."
Sy sê die student wat kwalifiseer vir 'n beurs doen ook aansoek vir toelae vir vervoer en verblyf. Potgieter sê die toelae hang egter af van reëls en regulasies asook klasbywoning, wat nie laer as 80% mag wees nie. Die kollege het egter nou gevra dat volgende maand se toelaes saam uitbetaal word.
Die groep students van Suid-Kaap Kollege was Maandag onsteld oor beursgelde wat nie uitbetaal is nie.
Read previous articles:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'