Update
GEORGE NUUS - Die Evergreens- en Eden-netbalspanne en hul bestuur het verlede Woensdag, 15 Julie, 'n gedenkdiens vir hul geliefde Amorei Vermaak (26) gehou.
Vermaak en haar kêrel van vyf jaar, Stephen Fleck (31), se liggame is op Vrydag 10 Julie deur een van Vermaak se beste vriendinne in hul huis in Bergsig aangetref.
Volgens inligting het Vermaak in die bed gelê en Fleck se liggaam het langs die bed op die vloer gelê.
Albei het skietwonde aan hul bolywe opgedoen.
"Ek het eintlik nie woorde nie. Sy was 'n pragtige mens wat altyd geglimlag het. Ons verlang vreeslik baie na haar. Sy was 'n hardwerkende speler en beampte," vertel 'n medespeler, Nita Rhoode.
Sy was 'n lid van die Suid-Kaap Kinderkoor en het in 2012 aan Hoërskool Outeniqua gematrikuleer. Sy het vir Fleck sowat vyf jaar gelede in die Kaap ontmoet waarna hulle na George verhuis het. Sy was nou betrokke in die netbalkringe in George waar sy vir die Evergreens-netbalspan gespeel het. Sy was ook 'n komiteelid van die Eden-netbalspan.
Spanmaats, vriende en familie het verlede week hulde aan Vermaak gebring deur 'n gedenkdiens en kranslegging by die Evergreens-netbalbane te hou. Hier verskyn Nita Rhode (heel links), Julie Jonkerman, Kobus Myburg, Hettie Lass, Nara Madwanya en Mieke Myburg.
Tydens die geleentheid is daar hulde gebring aan Vermaak en die rol wat sy in netbal gespeel het.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'