GEORGE NUUS - Nelson Borman van Randburg, voormalige eggenoot van etiketghoeroe Emsie Schoeman, is vanoggend, Dinsdag 29 Junie, in die Olivedale-kliniek in Johannesburg weens Covid-19 oorlede.
Hy het op 19 Mei 87 jaar oud geword en is op 1 April van Schoeman geskei na ‘n huwelik van vyf jaar.
Dit was beide se derde huwelik. Schoeman het van Wilderness na Randburg verhuis toe hulle getroud is en sy het daar aangebly in 'n aftreeoord omdat dit nader aan haar seun is.
Borman was 'n briljante prokureur en het sy eie regsfirma gehad. Hy het ook al die regsaspekte van die destydse plaaslike bevrore voedsel onderneming, Table Top Foods, behartig.
Schoeman het aan George Herald gesê sy is baie hartseer oor Borman se dood.
"Ek het Saterdag nog met hom gepraat en probeer bemoedig. Hy het die laaste paar maande baie agteruitgegaan en gewig verloor. Nelson was 'n briljante man en het baie hard gewerk. Hy het nog steeds gepraktiseer en het nog twee kantore gehad. Ons het mekaar meer as 60 jaar geken. Dit is so tragies. Hy laat ses briljante kinders agter."
Nelson Borman van Randburg, voormalige eggenoot van etiketghoeroe Emsie Schoeman.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'