GEORGE NUUS - Ná drie jaar van 'n senutergende hofsaak is konst. Desmond Mandlevu onskuldig bevind op die moord van Mzoxolo Mtsi, 'n lid van die Uncedo taxi-vereniging, wat op die N2-snelweg naby Thembalethu doodgeskiet is.
Mandlevu, wat van diens af was, was op
8 Oktober 2014 vanaf Kaapstad na sy familie in Port Elizabeth onderweg. Hy het geryloop langs die N2 toe drie voertuie hom omsingel. Mtsi en nog mans het Mandlevu glo gedreig, aangerand, beroof en wou hom ten alle koste in 'n voertuig dwing.
Talle taxibestuurders het destyds voetgangers verbied om op die N2 te ryloop óf om van Thembalethu na enige plek met 'n geleentheid te ry indien hulle nie van die taxi's gebruik maak nie.
Verheug
"Dit was 'n vreugdevolle dag toe mnr. Mandlevu na soveel jaar vrygespreek word. Die insident het daartoe gelei dat hy uit die polisiemag bedank het omdat hy verbied is om 'n vuurwapen te gebruik. Hy het sedertdien na Kaapstad verhuis waar hy sy eie besigheid begin het. Hy was in 'n stadium baie moedeloos omdat die saak so gesloer het, maar ons het vertrou en daarom is ek geweldig bly dat reg en geregtigheid geseëvier het en dat hy onskuldig bevind is," het Mandlevu se regsverteenwoordiger, adv. Gert van Niekerk, aan die George Herald gesê.
Skietvoorval
Volgens Mandlevu het hy vir sy lewe gevrees en sy dienspistool uitgehaal om hulle af te skrik.
"Ek het 'n waarskuwingskoot in die grond afgevuur, maar dit het nie die gewenste uitwerking gehad nie. Een van die mans in die groep [Mtsi] het na sy regtersy gegryp en ek het gedink hy gryp na 'n vuurwapen," het hy gesê. "Ek het 'n skoot in Mtsi se rigting afgevuur en gevlug. Ek het dadelik die polisie geskakel en met hul aankoms is Mtsi se lyk gevind. Hy het twee skietwonde aan sy lyf gehad."
Dit was slegs 300 m van die plek waar die taxi-eienaar Tom Queba in Mei daardie selfde jaar vermoor is.
Sy koeël nie doodskoot
Adv. Van Niekerk sê tydens hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat die skoot wat Mtsi se dood veroorsaak het, nie deur Mandlevu afgevuur is nie.
"Die noodlottige skoot het Mtsi van regs in sy rug getref. Mandlevu kon dus onmoontlik die skoot afgevuur het aangesien hy aan die voorkant van die oorledene gestaan het. Die enigste persone wat aan die agterkant van die oorledene was gedurende die voorval, was die mans wat saam met hom [Mtsi] was."
"Ten einde kon die staat geen verbinding tussen Mandlevu se wapen en die wonde aan die oorledene vind nie. Mandlevu kon dus nie bo redelike twyfel skuldig bevind word nie."
Lees vorige artikels:
- Highway shooting case postponed to 2015
- N2 shooting: Policeman out on bail
- N2 shooting: Policeman gets R500 bail
* Following three years of draining court appearances, constable Desmond Mandlevu was found not guilty of the murder of Mzoxolo Mtsi, a member of the Uncedo Taxi Association. Mtsi was shot and killed on the N2 in October 2014.
ARTICLE: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOURNALIST
'We bring you the latest George, Garden Route news'