Chris van der Walt (82) spog met die mosselkraker wat hy met ‘n 3.0-hoekie en rooiaas aangekeer het.
GEORGE NUUS - Iemand wat ‘n hengelaar se hart verstaan, sal weet hoe Chris van der Walt (82) gevoel het toe hy voorverlede week ‘n mosselkraker van 11kg op Kleinkrantz uitgetrek het.
In sy geval was die ervaring soveel te meer spesiaal, want hy het grootliks ophou hengel nadat hy in 2006 ‘n hartaanval gehad het, juis terwyl hy met sy geliefkoosde stokperdjie besig was. Daardie dag het hy ‘n 17,5kg-bielie, ook ‘n mosselkraker, aan die hoek gehad op Hershamstrand. Ywerige visserman wat hy is, het hy eers seker gemaak die vis is aan land voordat hy hulp per selfoon ontbied het. In die proses het hy vroulief, Yvonne, se toorn vir homself op die hals gehaal oor hy so onverantwoordelik kon wees, en dit oor ‘n vis. Sy het volstrek geweier om haar mond aan ‘n stukkie van die vangs te sit toe dit uiteindelik op die tafel beland. En hy het van al sy visgerei ontslae geraak.
Intussen het Chris kolonkanker ook oorkom en daarna besluit die lewe is te kort om die dinge wat jou die gelukkigste maak, te vermy. Dit was tyd om weer lyn nat te maak.
Hy is hoogs in sy noppies met die jongste vangs. Dit was maar sy vierde uitstappie nadat hy die stok weer opgeneem het.
"Ek het eintlik vir galjoen gegaan met ‘n 3.0-hoekie, rooiaas en ‘n ligte lyn. Hy het op ‘n stadium agter die rotse in geswem, maar ek het net geduldig gebly. Hy was seker so 20 minute aan die lyn."
Hier aan die einde het die fyn hoekie uit die vis se bek geglip, maar ‘n medehengelaar was byderhand om die gladdelyf met die net op te skep. En dié keer sal daar in vrede aangesit word om die vangs te nuttig.
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER
Posted on: 14:12 Fri, 08 April 2011
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: