GEORGE NUUS - JD Janse van Rensburg, mede-eienaar van Wilderness Manor-gastehuis, het erge Covid-19 oorleef en sterk by sy huis aan nadat hy twee weke in die hospitaal en 'n week by 'n rehabilitasiesentrum was.
Dis nou ongeveer ses weke later en JD kan weer klein entjies stap.
"Wanneer ek tuiskom, is ek uitasem, maar elke dag stap ek een huis verder en is ek die Vader net dankbaar vir 'n tweede kans op die lewe. Hier in ons buurt is twee persone oorlede weens Covid-komplikasies waarvan ek weet."
JD is op 'n Vrydag, ongeveer ses weke gelede, in die hospitaal opgeneem. Sy lewensmaat, Gerald, kon hom daardie oggend nie wakker kry nie. Dit was 'n paar dae nadat hy sy Covid-inenting gekry het.
"Ek het die Maandag die Pfizer-inenting gekry. Donderdag het ek nog met die bure gestaan en gesels en ek was by my huisdokter vir 'n effense verkoue. Die volgende oggend het Gerald vir my koffie op die bedkassie neergesit, maar nadat ek 'n paar keer wakker geword het, het ek net weer aan die slaap geraak."
Gerald het bekommerd begin raak omdat JD so min reaksie toon en het 'n ambulans ontbied.
"Ek was half in 'n koma en onthou net grepe van wat gevolg het tot ek in die hospitaal opgeneem is. Ek onthou die dokter het genoem van 'n ventilator. My woorde aan haar was, 'ek wil nie nou doodgaan nie'."
JD het agt dae later in die intensiewesorg-eenheid van Mediclinic George eers weer van sy omgewing bewus geword. Hy kon nie praat nie omdat hy nog op die ventilator was.
"Ek was op 'n stadium verskriklik dors en het net my een duim opgelig. Daar was 'n suster Leoni Muller wat ek nooit sal vergeet nie. Sy het dit raakgesien en gevra of ek iets wil hê. Ek kon net my oë knip en toe sy vra of ek water wil hê, was die verligting onbeskryflik. Om daai woorde te hoor ... dit sal my die res van my lewe bybly."
Die aand nadat hy van die ventilator afgehaal is, wou hy nie sy oë toemaak om te slaap nie, want hy was bang hy gaan nie weer wakker word nie.
"Die volgende dag is hy na 'n gewone saal oorgeplaas. "Dit was 'n verligting, want die intensiewesorgeenheid was nie goed vir my geestestoestand nie en was vol baie siek Covid-pasiënte."
JD het groot lof vir die gesindheid van die hospitaalpersoneel. "Terwyl ek aangesterk het, moes hulle my bad, skeer en voer. Jy voel soos 'n baba, maar hulle doen hulle werk met soveel oorgawe. Dit het my diep getref en ek sal dit altyd onthou. Wanneer hulle by die saal instap, was dit met breë glimlagte.
"Van die Mediclinic af is ek vir 'n week na Spescare vir rehabilitasie en daar was dit presies dieselfde. Suster de Villiers en haar personeel by Spescare het seker gemaak ek keer stadig maar seker terug na 'n normale lewe. Almal wat my deur hierdie beproewing gehelp het, is werklik engele sonder vlerke, van die ambulanspersoneel tot waar ek met trane op my wange by Spescare se deure uitgestap het.
"Elkeen het 'n rol gespeel in my herstel om te kom waar ek nou is en ek wil my dankbaarheid teenoor hulle uitbasuin."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'