GEORGE NUUS - Op Donderdagaand, 21 Desember, sal inwoners en vakansiegangers van Groot-Brakrivier die skouspel van drywende kerse en 'n verligte meiboom van boodskappe kan aanskou.
Dit begin om 20:00 oorkant die polisiekantoor in Langstraat.
Tydens 'n windstil aand in 2016 is die eerste Light & Lanterns-projek met bykans 700 drywende kerse omring deur bloeisels te water gelaat.
Klein en groot is meegesleur deur die drywende kerse op vlotte.
Vanjaar word besoekers en inwoners genooi om vroegaand met komberse en piekniekmandjies langs die rivieroewer bymekaar te kom in afwagting van die drywende skouspel op water.
Daar gaan gepoog word om bykans 1 000 kerse aan te steek.
Vir 'n oomblik kan die gewoel van inkopiesentrums en die gejaag na die volgende opwindende bestemming op die agtergrond geskuif word.
In die rustige atmosfeer van sonsondergang kan gesels word oor die jaar se uurglas wat uitloop.
Boodskapkaartjies en kerse teen R15 sal beskikbaar wees by Total Groot-Brakrivier asook die plaaslike Groot-Brak-mark in Desember.
Hierdie boodskappe en kerse kan dan op die aand gehang word aan die verligte meipaal en kerse kan in houers geplaas word.
Die instelling fokus om as inspirasie te dien oor hoe elkeen in hul daaglikse omgang met ander, 'n gesindheid en positiewe dryfkrag kan vrystel.
Navrae kan gerig word aan Laurinda Smit by 082 738 8011.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'