GEORGE NUUS - Wat is dan nou beter as 'n kombersie om die winterkoue te verdryf. Daarvan kan die manlike inwoners by Tuiniqua-versorgingsentrum getuig.
Elkeen van die 42 manlike inwoners het Sondag 19 Junie onder meer 'n kombers ontvang waarop sy naam geborduur is. Daar was ook 'n sjokolade vir dié wat 'n soettand het.
Dit was alles deel van Vadersdagvieringe en om die dag spesiaal te maak.
Van die manlike inwoners het hul kombersies in die eetsaal gaan haal. Van die inwoners se families het hulle ook besoek.
Onder die besoekers was Rebecca Joubert wat op haar verjaarsdag vir haar oupa, Ronnie Atkins, gaan kuier het.
Charles Young (83), 'n inwoner, was baie ingenome met die kombers wat hy ontvang het.
"Dit beteken baie vir ons as ons so bederf word. Ek woon baie lekker hier by Tuiniqua," het hy vertel.
Annelie Bennett, dienssentrumkoördineerder, het gesê daar is baie van die manlike inwoners wat alleen is en hul kinders en familie is ver. "Daarom wil ons die dag vir hulle spesiaal maak. Elkeen is vir ons baie belangrik."
Van die komberse wat manlike inwoners van Tuiniqua as deel van Vadersdag ontvang het.
Rebecca Joubert wat Sondag verjaar het, het by haar oupa Ronnie Atkins gaan kuier om sy Vadersdag spesiaal te maak.
Van die komberse wat manlike inwoners van Tuiniqua as deel van Vadersdag ontvang het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'