GEORGE NUUS - 'n Oudleerder van Hoërskool George Melisizwe Plaatjies (19), is onlangs as die wenner van die ATKV/Albert Engel-prys vir musiek aangewys. Plaatjies studeer tans aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy 'n sertifikaatkursus in musiek volg. Hy is reeds deur die musiekdepartement aanvaar om sy studies in 2019 voort te sit as 'n voltydse student van die hoër sertifikaat-kursus.
Ilse Schurmann, die organiseerder van die kompetisie, het gesê dat die Albert Engel-prys 'n geleentheid bied aan studente afkomstig van voorheen benadeelde omgewings, om instrumentale en teoretiese onderrig in musiek te ontvang en moontlik later 'n BMus-graad te volg.
Plaatjies was 16 jaar oud toe sy vingers die heel eerste keer oor die klawers van 'n klavier gegly het terwyl hy hard probeer het om 'n toonleer in die C-majeur te bemeester. "Daardie was my eerste én laaste klavierles, want daar was nie 'n klavier onderwyser by my hoërskool nie," het hy gesê. Aangesien net een van sy ouers gewerk het, was daar ook nie geld vir privaat lesse nie. "Ek was gebroke. Om beter te word, moet 'n mens op 'n gereelde basis oefen en les neem."
Plaatjies het homself leer klavierspeel deur pop- en jazz-klavierlesse op die YouTube-kanaal te kyk. Tot en met 2017 was die videokanaal sy enigste leermeester. "Dit het my tegniek en musikale woordeskat baie verbeter."
Hy het gedroom om ná matriek musiek te gaan studeer, maar het gesukkel om universiteitstoelating te kry. "Ek was baie teleurgesteld en het verlore gevoel. Musiek was iets wat ek vir die res van my lewe wou doen. Ek het begin dink ek is nie goed genoeg nie."
Alles het egter verander toe hy vanjaar vir 'n sertifikaatkursus in musiek aan die US aanvaar is.
"Dit was 'n uitdaging om klassieke musiek te speel, want ek het die afgelope drie jaar net jazz en pop gespeel. Maar onder die leiding van my musiekonderwyser, Throy Petersen - 'n meestersgraadstudent en ook 'n boorling van George, voel ek dat enigiets moontlik is," het Plaatjies gesê.
Melisizwe het gesê dit is vir hom 'n groot eer om die Albert Engel-prys te ontvang. "Ek het gehoor jy word slegs benoem as jy hard werk en jou dosente potensiaal in jou sien."
Die sertifikaatkursus is deur wyle Albert Engel, 'n dosent in koperblaasinstrumente en dirigent van die Stellenbosch Simfoniese Blasers, begin. Ná sy heengaan in September 2003 is Engel se droom voortgesit toe daar besluit is om 'n jaarlikse prys in sy naam in te stel. Die prysgeld van R20 000 word toegeken aan die student wat die meeste ywer toon, wat bo slegte omstandighede uitstyg en die beste maak van die geleentheid om musiek aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Plaatjies sê sy mantra is, "Wie nie saai nie, sal nie maai nie."
(Aangepas deur Lynette Petersen met toestemming van ATKV Korporatief)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'