GEORGE NUUS - "Die George-munisipaliteit kyk hoe hy die jongste verwikkelinge op die terrein van kragvoorsiening tot voordeel van inwoners en die stad kan benut."
Dit is hoe Leon van Wyk, George se burgemeester gereageer het nadat Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, op Vrydag 16 Oktober wysigings aan die regulasies oor nuwe kragopwekkingsvermoë in die Staatskoerant gepubliseer het.
Dit sal munisipaliteite, wat se geldsake in orde is, in staat stel om hul eie elektrisiteits-opwekkingsprojekte te ontwikkel of elektrisiteit van elders as Eskom te koop.
Van Wyk het Dinsdag die jongste gebeure verwelkom en gesê die munisipaliteit sal kyk hoe dit benut kan word. "Dit maak die proses interessant, maar dit is 'n ingewikkelde aangeleentheid."
Van Wyk het benadruk dit kom eintlik al 'n lang pad en die munisipaliteit het al studies saam met die WNNR gedoen. Die aankondiging in die Staatskoerant bring die proses nader aan die praktiese implementering.
Volgens hom is daar voordele vir die verbruiker. In Kaapstad byvoorbeeld maak die munisipaliteit gebruik van 'n hidro-kragsentrale wat aan hom behoort.
Tydens fase1 van beurtkrag hoef hulle dan nie beurtkrag toe te pas nie.
Hy het gesê die George-munisipaliteit was reeds een van die eerstes om sy beleid te verander. "As iemand sy/haar eie elektrisiteit opwek, kan hulle die oortollige elektrisiteit terugverkoop aan die munisipaliteit."
Die munisipaliteit hou die situasie dop. "Ons wil sien wie in die privaat sektor is betrokke en hoe ons van hulle elektrisiteit kan koop. So-iets sal beslis kan help om te voorsien in die verwagte tekort aan elektrisiteit in die land."
As dit voortgaan, kan dit binne twee jaar in werking wees. Alternatiewe bronne kan help tydens beurtkrag.
Die munisipaliteit kyk op die oomblik hoe hy self in sy eie behoeftes kan voorsien. Tussen 6% en 8% van die elektrisiteit wat die munisipaliteit by Eskom koop, word vir eie gebruik aangewend, byvoorbeeld by pompstasies en geboue. Daardie elektrisiteit sal hy dus van ander bronne kan kry.
Daar is reeds begin met 'n projek om sonpanele te plaas by die munisipale parkeearea om sonkrag te benut. Dit sal dan in die munisipaliteit se eie behoeftes voorsien.
"Die Wes-Kaapse regering se mikpunt is dat munisipaliteite in die provinsie meer onafhanklik van Eskom sal wees. Dit sal beteken dat elektrisiteit van meer alternatiewe bronne opgewek word om die provinsie se ekonomie aan die gang te hou en uit te brei."
Leon van Wyk, mayor of George, has welcomed the latest developments on the energy front. Municipalities that have good financial standing will now be able to procure their own power from independent power producers. On Friday 16 October Gwede Mantashe, Minister of Mineral Resources and Energy, gazetted amended regulations on new generation capacity. The department said this gives effect to Pres Cyril Ramaphosa's commitment in his February state of the nation address. Van Wyk said the municipality is looking at how the latest development could be used to the advantage of residents and the city.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'