TUINROETE NUUS - Die 19-jarige motorfietsryer wat Saterdagaand in 'n botsing in Langen-hovenweg in Oudtshoorn betrokke was, is steeds in 'n kritieke toestand in die waakeenheid in die Mediclinic George.
Jarrod de Jongh was Saterdagaand omstreeks 19:30 met 'n motorfiets in Langenhovenweg op pad huis toe nadat hy klaar gewerk het, toe die botsing plaasgevind het.
Volgens sers. Gretchen Michaels, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn-polisie, het 'n Toyota-bakkie wat in die teenoorgestelde rigting onderweg was, by 'n systraat ingedraai en voor die aankomende motorfiets ingery.
Die motorfiets het die bakkie aan die passasierskant getref. 'n Ooggetuie wat by die toneel stilgehou het, het De Jongh te hulp gesnel en aanvanklik gedink hy is noodlottig beseer. Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer en hom per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem.
De Jongh se ma het Maandag aan George Heral se susterskoerant, Oudtshoorn Courant gesê die mediese hulp wat haar seun by dié hospitaal ontvang het, was puik en dokters het dadelik besluit om Jarrod na George oor te plaas.
Volgens haar het Jarrod frakture aan albei bene, albei arms en sy regterhand opgedoen. Hy het ook skedelbreuk, 'n gebreekte kakebeen, gesigswonde en verskeie ander beserings opgedoen. Jarrod sou gister uit die mediese koma bygebring word sodat toetse gedoen kon word om te bepaal of hy enige breinskade opgedoen het.
Michaels het bevestig dat 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Die wrak van die motorfiets waar dit tot stilstand gekom het na die botsing.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'