GEORGE NUUS - Die toename in sinnelose moorde onder tieners in Thembalethu wek kommer by ouers en die polisie.
Ná die dood van die 15-jarige leerder van PW Botha-kollege, Avuye Thyuthuza, wat op 1 April vermoedelik vir 'n kledingstuk vermoor is, is nóg 'n 15-jarige seun vir soortgelyke redes vermoor.
Die seun is op Vrydag 13 April in Zone 3, Thembalethu na skool na bewering deur 'n 18-jarige leerder van Imizamo Yethu Sekondêr aangerand en met 'n skerp voorwerp gesteek.
Hy is by die kliniek dood. Sy pers K-Way pet is glo afgeneem en hy wou dit terugvat. Drie tienerverdagtes is kort na die voorval in hegtenis geneem. Hulle het gister (24 April) weer in die hof verskyn.
Volgens Thembalethu-polisie se stasiebevelvoerder, kolonel Douw Herbst, spruit die onlangse voorvalle uit kinders wat jaloers is op ander wat klere met bekende handelsmerke dra.
"Die huidige sosio-ekonomiese omstandighede en die feit dat baie van die kinders enkelouers het wat bedags werk, is ook 'n bydraende faktor," het hy gesê.
Vroeër in Maart was daar na bewering nóg 'n soortgelyke voorval waar 'n 15-jarige seun vir sy klere met 'n panga aangerand is. Sy linkeroog is uitgesteek. Hy is 'n paar dae later oorlede.
Dié voorval kon teen druktyd nie met die polisie bevestig word nie.
Lees verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'