GEORGE NUUS - Asof die erosie van die rivierwal nie genoeg is nie, moet inwoners van Rosemoor wat teen die Molenrivier woon gereeld hul neuse toeknyp weens die stank van rou riool in die rivier.
Volgens pastoor Sedric Smart, 'n inwoner wat reeds 'n dekade langs die rivier woon, was daar nog altyd probleme met rioolbesoedeling, plantegroei wat oorneem en die erosie van die rivierwal wat woonhuise bedreig. 'n Berig aan die begin van die jaar het inwoners se kommer oor die erosie uitgelig (George Herald, 17 Januarie, bl.4).
"Die laaste paar maande was die geweldige stank van riool egter die grootste uitdaging," het Smart gesê. "Ofskoon die munisipaliteit wel die verstopping kom regmaak het, moes ons etlike weke onder die stank gebuk gaan. Dit is ook 'n geweldige gesondheidsrisiko."
Die direkteur van siviele dienste, Regenald Wesso, het by navraag gesê klagtes oor riool in die Molenrivier het sy departement via die media bereik, waarna hulle gereageer het. Hy versoek die publiek om die departement direk te kontak.
Navrae in die verband is op 23 Augustus na die George-munisipaliteit gestuur.
Volgens Smart het spanne van siviele dienste egter op 15 Augustus reeds die area besoek. Selfoonboodskappe tussen Smart en burgemeester Melvin Naik, waarin terugvoer van die siviele spanne vervat is, is vir die George Herald gewys.
"Na hul tweede poging is die probleem opgelos," het Smart gesê. "Ons meld hierdie probleme aan die oomblik wat dinge handuit ruk."
Volgens Wesso is die verstoppings te wyte aan ongewenste items wat in die stelsel beland.
Hy het onderneem dat sy departement hierdie deel van die Molenrivier twee keer per week sal nagaan om probleme vroegtydig te identifiseer en op te los.
Op 'n vraag oor planne vir die rehabilitasie van die rivier het Wesso geantwoord dat die verantwoordelikheid nie by die munisipaliteit berus nie.
"[Ons] is slegs verantwoordelik vir die bedryf en instandhouding van munisipale infrastruktuur en indien besoedeling weens byvoorbeeld rioolverstoppings voorkom, word die toepaslike behandeling toegedien nadat die verstopping oopgemaak is."
Hierdie mangat het in Augustus verstop geraak, waarna riool in die Molenrivier ingeloop het.
Watermonsters
Beide die Garden Route-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van waterwese en sanitasie het bevestig dat hulle bewus is van die kwessies rondom die Molenrivier.
Volgens Herman Pieters, senior kommunikasiebeampte van die distriksmunisipaliteit, stuur hul munisipale gesondheidsdienste maandeliks verslae van watermonsters wat by die Molenrivier geneem word na die George-munisipaliteit, waaronder monsters wat nie aan die vereistes voldoen nie.
Terugvoer van die Wes-Kaapse departement van Waterwese bevestig dat die bestuursagentskap vir die Breede-Gouritz-opvanggebied tans in verbinding is met die George-munisipaliteit om die saak op te los.
Sputnik Ratau, die departementele woordvoerder, het gesê watermonsters word tans ontleed om vas te stel waar die besoedeling vandaan kom.
Hy het gesê geen afvalwater en kleurstowwe is in die stormwater van die nabygeleë tekstielfabriek gevind nie. Dié stormwater word na die rivier herlei.
"Die blokkasie in die rioolpypleiding was die oorsaak dat kleurstowwe, afvalwater en ander operasionele afvalwater in die rivier beland het," het Ratau gesê.
Volgens Ratau is daar geweldige druk op die rioolpypleiding aangesien Le Vallia, Rosemoor en die industriële area se riool na die pypleiding herlei word.
"Daarom is dit belangrik dat die munisipaliteit die hooflyn meer gereeld monitor en bestuur," het hy gesê.
Die vier punte waar monitering sal plaasvind is agter die Coke-fabriek, in Pienaar- en Herculesstraat en by die Meul-pompstasie.
Kontak siviele dienste vir probleme met rioolverstoppings by 044 801 9262/66 en 044 801 6300 (na-ure).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'