Update
GEORGE NUUS - Moeggeploeg se gesinne in hul plakkers-kamp in Seaview, Pacaltsdorp, is steeds vol hoop vir elektrisiteit in hul hutte. Inwoners neem van tyd tot tyd 'n kans en maak onwettige kragkoppelings, maar die hoop is steeds op die ware Jakob.
Voorsitter van die Moeggeploeg-behuisingskomitee, Ernest Damons, het gesê hulle voel vreeslik afgeskeep en wag nou al lank vir hulle krag. Volgens Damons is daar 'n geweldige tekort aan toilette en lyk die plek soos een groot rommelhoop.
"'n Probleem met 'n rioolpyp in die area het ook veroorsaak dat die gebied erg stink en rioolwater in die see inloop," het Damons gesê.
"Dit het twee maande geneem om te herstel."
Onwettige kragaansluitings vind gereeld in Moeggeploeg plaas. Hierdie foto illustreer 'n onwettige aansluiting van Januarie 2021.
Toilette, water
Lauren Waring, direkteur van menslike nedersettings, beplanning en ontwikkeling, het by navraag gesê dat hul inligting daarop dui dat 67 families in die Moeggeploeg-nedersetting woon.
"Ingevolge die nasionale behuisingstandaarde vir die verskaffing van tydelike dienste vir informele gebiede, moet daar in verhouding tot die hoeveelheid gesinne, 13 toilette en drie waterpunte wees," het Waring gesê.
"Indien daar gevind word dat daar meer bewoners op die grond is wat dus die verhoudings beïnvloed, is dit sonder die toestemming van die munisipaliteit en sal dit ondersoek word. Daar is tans 14 spoeltoilette en vier waterpunte (standpipes) in Moeggeploeg."
Die besetting van die stuk grond, Moeggeploeg in Seaview, Bluegumstraat, deur agterplaasbewoners in Maart 2019. Skermgreep: https://www.georgeherald.com/News/Article/General/grondbesetters-bou-steeds-in-bluegumstraat-201903010418
Krag
Volgens Bongani Mandla, direkteur van elektrotegniese dienste, het die George-raad in Junie 2022 'n item goedgekeur wat aanspreek hoe die elektrifisering van informele nedersettings bestuur sal word, na verskeie samesprekings met verskeie direktorate, in 'n multidissiplinêre span.
Die elektrifisering van Ikapa, Blonde en Moeggehuur ('n informele nedersetting in New Dawn Park) is gedoen onder die korttermyn elektrifiseringsprojek, soos goedgekeur in die raad in Maart 2021.
"Ons wil beslis die elektrifisering van informele nedersettings bespoedig waar kriteria dit prakties moontlik maak, asook waar finansiering beskikbaar is, in lyn met die goedgekeurde raadsitem," het Mandla gesê.
Sowat 67 families woon in die Moeggeploeg-nedersetting.
Skermgreep van 'n video (24 Februarie 2021) waar leiers van die Moeggeploeg gemeenskap vra vir kragbokse. Video: Salette Cloete (https://www.georgeherald.com/Video/Video/moeggeploeg-vra-vir-krag-202102240943)
Die koste per struktuur vir elektrifisering is ongeveer R20 000, wat 'n voorafbetaalde meter insluit. Die begrotingstoewysing vir elektrifisering van informele nedersettings vir 2020/2021 was R1,8 miljoen. Hierdie finansiering kom van die munisipaliteit self en word nie deur enige provinsiale of nasionale departement verskaf nie.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'