Update
GEORGE NUUS - Onwettige grondbesetters van Seaview in Pacaltsdorp, wat na hul plakkerskamp as Moeggeploeg verwys, was Dinsdag weer in die George-landdroshof.
Die George-munisipaliteit het aansoek gedoen om die uitsetting van die groep grondbesetters. Hul aansoek is egter deur die hof van die hand gewys weens onvolledige pleitstukke.
Die munisipaliteit sal nou van vooraf moet aansoek doen om 'n uitsettingsbevel te bekom, maar hierdie keer kan dit nie as 'n dringende aansoek hanteer word nie en sal die normale hofproses moet verloop.
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus, die regsverteenwoordiger van sowat 50 plakkers wat lede van sy party is, het by navraag gesê die hele proses kan ses maande of meer duur voordat die saak weer in die hof sal dien. "Intussen kan hulle aanbly op die grond waar hulle tans woon," het Van Niekerk gesê. Ofskoon hy nie al die plakkers verteenwoordig nie, sal die res ook die vrugte van die uitspraak pluk.
Volgens Van Niekerk het sekere kardinale bewerings in die aansoeker (munisipaliteit) se aansoek ontbreek. "Die saak is van die hand gewys met 'n kostebevel teen die munisipaliteit se rekening. Hierdie vermorsing van geld kon verhoed gewees het indien die munisipale bestuurder, Trevor Botha, bereid was om om 'n ronde tafel met die VF Plus te vergader om hierdie mense se lot te bespreek," het Van Niekerk gesê.
"Na verskeie pogings om 'n afspraak te bewerkstellig wat deur Botha se kantoor geïgnoreer is, het ons geen keuse gehad as om die saak in die hof te kom stel nie. Hierdie saak kan steeds buite die hof beredder word, maar dit staan die munisipaliteit vry om weer aansoek te doen om 'n uitsettingsbevel."
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag gesê hulle sal verdere regsadvies in hierdie verband bekom.
Lees 'n vorige artikel: Moeggehuur brand vullis oor toiletsake
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'