GEORGE NUUS - Leerders van Hoërskool Outeniqua het verlede Vrydag, met hul laaste dag van skool, volgens hul tradisie met hul skoolklere in die water by Victoriabaai baljaar.
Dit was die laaste skooldag vir die klomp Kwaggas, wat vandeesweek met hul matriekeindeksamen begin.
Hoofdogter Amy Wessels, het gesê dit was die grootste eer om met hulle "pampoenrokke" die see te kon inhardloop, net soos duisende ander matrieks dit vroeër jare gedoen het: "Dit was beslis 'n hoogtepunt van die jaar en 'n lekker manier om die tye in die skoolbanke af te sluit, maar ook die eksamen af te skop. Dankie Outeniqua vir vyf van die gelukkigste jare."
Ariska de Jager het gesê sy het skoon emosioneel gevoel om in daai koue water in te stap: "Dit was my laaste skooldag wat beteken dat ek klaar is met skoolbrood! Die 12 jaar van skool het baie vinnig verbygegaan en ek kan net dankie sê vir my hemelse Pappa wat ons almal beskerm het en deur dit gedra het. Dis was 'n awesome gevoel om in die see te kon inhardloop en te weet dat dit die einde is, maar tog 'n nuwe begin."
Riaan Swart het gesê dit voel asof jy in 'n portal inhardloop na die grootmenswêreld: "Alhoewel jy nog nie klaar is nie, voel dit of jy 12 jaar se skool af was." Ansoné Cronjé het gesê die water was glad nie so koud nie, en dat sy die afsluiting saam met haar graadgroep geweldig geniet het.
Van links is Riaan Swart, Louhan Janse van Rensburg, Chené Adams, Johanni van der Hoven, Amy Wessels, Leighton Malgas en Lorence Burton.
Nadia Altun en Ansoné Cronjé.
Soos duisende matrieks voor hulle het vanjaar se Kwaggas die see by Victoriabaai trotseer op hul laaste skooldag 22 Oktober.
Ansoné Cronjé en Danielle Earle beleef die oomblik.
Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'