Onderburgemeester, Daniël Maritz, stoot Paul (regs) en sy broer, Francois se waentjie gisteroggend toe hulle uit George vertrek het.
GEORGE NUUS - Paul Steyn (28), 'n Gordonsbaaier met net een been wat kunsbene wil skenk aan soveel moontlik ander mense soos hy, het Sondag op George aangekom na hy op 3 Augustus met 'n epiese staptog van 7 000 km by die Waterfront in Kaapstad begin het om geld in te samel.
Sy broer, Francois (16) vergesel hom op die tog en hulle roete gaan hulle deur al die provinsies in die land neem. Die twee is gisteroggend deur 'n brandweerwa, polisie en verkeersbeamptes, die onderburgemeester en 'n paar Georgiete uit die dorp begelei.
Paul se passie vir mense wat ledemate verloor het, spruit uit sy eie skrikwekkende ervaring 15 jaar gelede toe sy regterbeen onder die knie afgesit is ná 'n ongeluk met 'n bos-siekapper. Na die operasies en ses maande in die hospitaal was die gesin se mediese fonds uitgeput en was daar nie sprake van 'n prostese nie.
"Ná twee jaar van sukkel op krukke het ek besluit dis genoeg, en 'n been van staal gemaak," vertel hy. Hy was 16 toe sy derdeparty-eis uiteindelik uitbetaal het en hy 'n behoorlike prostese kon kry.
Terwyl hy aan die Boland-kollege studeer het, was hy as lid van die studenteraad getaak om geld vir gemeenskapsprojekte in te samel. Dit het hom voorberei vir wat hy sou doen vir die Paul Steyn-stigting wat hy in 2011 begin het. Die stigting het reeds prosteses aan tien mense geskenk.
"Daar is vir my niks lekkerder as om iemand op hierdie manier te help en te sien hoe mense se lewens verander nie.
"Die prosteses wat ons verskaf, kos tussen R50 000 en R100 000 en is dus nie die hoëtegnologie-tipe nie, maar 'n mens kan goed daarmee oor die weg kom."
Sy eie prosteses word geborg. Paul het in 2008 ook begin om as waaghals in rolprente op te tree en het al in 'n toneel waarin 'n haaiaanval gesimuleer word, ingestaan en 'n boot het al op sy "been" geval.
Tussen die stappery deur, werk hy aan 'n boek oor sy staptogte en die interessante mense en omgewings wat hy leer ken. (Hy het voorheen al verskeie korter roetes voltooi.)
Die twee se verblyf word deur die Protea Hotel-groep geborg op dorpe waar daar takke van die hotel is.
Hulle word ook deur weldoeners ingeneem en het onder meer al op 'n wildplaas geslaap waar hulle olifante gevoer het. Francois, wat 'n ambagskwalifikasie het, sê hulle ma Isabel, 'n inwoner van Vryheid, is baie trots op haar twee seuns.
Vir meer inligting en vir bankbesonderhede om geld te skenk, besoek die stigting se webtuiste,
Paul Steyn en sy broer, Francois by die Protea Hotel Outeniqua. Protea Hotel borg hulle verblyf op dorpe waar daar takke beskikbaar is. Foto's: Alida de Beer
Van die mense wat die twee Steyn-broers Woensdagoggend ontmoet het voordat hulle hul reis hervat het, van links: maj. Katy Visagie, raadslid Rassie de Villiers, raadslid Iona Kritzinger, Francois en Paul, onderburgemeester Daniël Maritz, kapt. Zelda Muller en lt. Pam Lesibanie.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD - JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'