GEORGE NUUS - Jeugdag in Pacaltsdorp het vanjaar op 14 Junie met 'n skoonheidskompetisie afgeskop waartydens Mej. New Dawn Park gekies is.
Jade Sateria, een van die organiseerders en seremoniemeester by die spoggeleentheid in Hoërskool Pacaltsdorp se skoolsaal, sê die deelnemers kom uit die plaaslike gemeenskap van New Dawn Park.
"Mej. New Dawn Park is gehou om die jeug van hierdie gemeenskap se talent te wys en te bevorder. New Dawn Park het min geleenthede en leerders het nie juis 'n aktiwiteit na skool of gedurende die vakansie nie," het Catherine Jafta, nog 'n organiseerder gesê.
Die projek het bestaan uit 'n jeugnaweek wat 'n sangaand en jeugdiens ingesluit het, sê Sateria. Een van Top Model SA se organiseerders, Karen Gray, het gesê dit kan dalk 'n jaarlikse projek word. Die beoordelaars was Megan Stride, Dimitri Noble, Isaac Williams en Hilmary Khaula. "Hierdie aand was nie vir my 'n geleentheid om naam te maak nie, maar 'n motivering vir opkomende modelle," het Megan, die gesig van Jean Nalida Collections, gesê.
Volgens Sateria het hulle goeie borge (Youth Café, Chriss Ross Kent-fotografie, La Bella Hair Studio en Jean Nalida Collections) gehad sonder wie die aand nie moontlik sou wees nie. Chriszelda Petersen, een van die gassprekers het 'n motiveringspraatjie gegee en Maxwell Matiwana het die gaste vermaak.
"Dit was vir my 'n aangename geleentheid om my persoonlike ervarings met die jeug te deel," het Petersen gesê.
"Die aand het my 'n kans gegee om my selfvertroue terug te wen," het Juvine Malgas, die senior eerste prinses gesê.
Die skare was baie trots op die geleentheid wat vir hulle kinders gegee is. "Ek is baie bly dat so 'n projek gehou word vir ons kinders, veral in ons gemeenskap waar daar baie min geleenthede is," het Muriël Saayman, een van die deelnemers se ouers gesê.
Vir die jaar 2020 beplan die beoordelaars en organiseerders van die huidige projek om meer kinders en werklose jeug te betrek by hul jaarlikse projekte wat nog gehou gaan word.
Die wenners van links is Lindzey Fredericks (senior tweede prinses), Juvine Malgas (senior eerste prinses), Hayquesha Crowly (Mej. New Dawn Park en Mej. Tema), Cashay October (Mej. Fotogenies en Mej. Junior New Dawn Park), Delmoline (junior eerste prinses) en Henriette van Staden (junior tweede prinses). Afwesig: Gershay Fisher (Mej. Persoonlikheid). Foto's: Ross Kent Photography
Die beoordelaars en organiseerders is van links: Dimitri Noble, Karen Gray, Megan Stride, Hilmary Khaula, Jade Sateria en Catherine Jafta (organiseerders) en Isaac Williams.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'