GEORGE NUUS - Die departement van arbeid is aktief besig om te soek vir akkommodasie vir die administrasie van sy betaalpunte in verskillende areas om dienste nader aan die gemeenskap te bring.
Dit is volgens Candice van Reenen, assistent-direkteur van kommunikasie by die departement, in reaksie op 'n klagte van 'n werknemer wat te bang is om in 'n lang ry by die arbeidskantore in Nelson Mandela-boulevard te gaan staan.
Die anonieme klaer is 'n asmalyer wat sê sy het al 'n paar keer omgedraai wanneer sy die lang ry sien.
Die mense het een keer tot in St. Leger-straat gestaan.
"Daar is nie distansiëring nie en dis mos gevaarlik vir mense om so naby aan mekaar te staan. As asmalyer is ek te bang om daar te gaan staan. Waarom kan die departement nie, soos Sassa, mense in hul eie woongebiede in hul onderskeie gemeenskapsale of by alternatiewe punte help nie?
"My werkgewer wou nie aansoek doen by die Ters-hulpfonds (Temporary Employer Relief Scheme) nie, so ek moet self sien kom klaar. My salaris is verminder."
Met die uitbreking van Covid-19 het die hoeveelheid mense wat die departement besoek aansienlik toegeneem.
Volgens Van Reenen is spasies vir kliënte by die kantore geallokeer om fisiese distansiëring te verseker.
"Ons het twee kliëntedienskantore en sekuriteitspersoneel wat moet help met die beheer van rye. Die departement het tans ook bokse in verskillende areas waar kliënte hul aansoeke kan afgee. Van hierdie punte is by kiesafdelings se kantore en ook by die Thusong-dienssentrum.
"In sommige gevalle verleen wyksraadslede en gemeenskapsontwikkelingswerkers ook hulp."
Van Reenen sê waar werknemers 'n probleem het met hul werkgewer, kan hulle klagtes elektronies by een van die arbeidsinspekteurs aanmeld.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'