GEORGE NUUS - Die DA-beheerde stadsraad van George gaan die media skuif van die sitplekke waar hulle gewoonlik tydens raadsvergaderings sit om verslag te doen.
Lede van die publiek kan tans die verrigtinge per kringtelevisie in 'n ander gebou volg. Die media het tot op hede in die raadsaal gesit om foto's te neem en gebeure te volg vir verslagdoeleindes.
Na vandag gaan dit nie meer gebeur nie.
Die vertrek waar gebeure per kringtelevisie gevolg kan word, is 'n hele entjie weg van die raadsaal. Dit behoort ‘n verslaggewer minstens vyf minute te neem om tussen die twee vertrekke te beweeg.
Die oë het Donderdagoggend gerek toe die speaker van die stadsraad, Gerrit Pretorius, tydens 'n buitengewone raadsvergadering aangedui het die media mag nie meer op hul gewone sitplekke sit nie tensy hulle foto's neem. Weens beswaar van die SAC-raadslid, Bazil Petrus, is die media toegelaat om vir die duur van die vergadering te bly.
Die verteenwoordigers van die George Herald het bly sit.
Melvin Naik, George se burgemeester, het later die oggend tydens 'n gewone stadsraadvergadering in sy burgemeesterede raadslede, amptenare en lede van die publiek verwelkom. Hy het ook die media verwelkom vir die "laaste keer wat hulle hier is."
Adv. Gert van Niekerk van die VF Plus, het tydens sy repliek op Naik se toespraak, die burgemeester gevra of hy reg gehoor het oor die media.
Pretorius het toe sommer namens Naik geantwoord dat die openbare gallery geskuif het. Dit sluit sitplekke vir die media in.
Volgens hom is die media net vandag (Donderdag 31 Januarie) in die raadsaal toegelaat om foto's te kan neem. Daar kan geen uitsondering gemaak word nie.
Hy het aangevoer die besluit is reeds in die media, insluitende die George Herald, aangekondig.
Die George-munisipaliteit se eie mediaverklaring, wat reeds 23 Julie 2018 op www.georgeherald.com verskyn het, stel dit egter duidelik dat die media in die raadsaal kan bly. “…only a few extra seats remain [in die raadsaal se openbare galery], which will be allocated to the media.” Lees die betrokke artikel hier.
Bongikosi Madikizela, die DA-leier in die Wes-Kaap, is verras oor die jongste gebeure. "Ek stem nie daarmee saam nie."
Hy het onderneem om die saak te ondersoek en met Naik en Pretorius kontak te maak om hom eerstehands te vergewis van die feite."Ons (die DA) respekteer media-vryheid."
Volgens hom moet die media toegang tot stadsraadsvergaderings hê sodat hulle hul werk kan doen. Daar is wel uitsonderings soos wanneer vertroulike aangeleenthede bespreek word. Alan Winde, DA se premierskandidaat in die Wes-Kaap, het gesê hy weet nie presies wat gebeur het nie. Hy het bygevoeg: “Die DA is ten gunste van oop vergaderings, hoe meer oop hoe beter.”
* Hou www.georgeherald.com en volgende Donderdag se koerant dop vir nuus uit die raad en verwante aangeleenthede. Een van die agendapunte sluit in ‘n voorlopige verslag deur die ouditeur-generaal (OD) oor die oudit van die munisipaliteit se finansiële state tot en met 30 Junie 2018. Dit wil blyk asof die munisipaliteit vir die boekjaar 2017/18 vir die eerste keer in sewe jaar ‘n gekwalifiseerde oudit gaan ontvang. Die OD het ‘n aantal tekortkominge met die interne kontrole prosesse uitgesonder en onder andere bevind die munisipaliteit het nie verseker dat ‘n raadslid of ‘n komitee van die raad nie betrokke raak by die voorsieningskettingbestuur (supply chain management) van die munisipaliteit nie. Tenders word deur die proses toegeken.
VF Plus-raadslid Gert van Niekerk het vir Naik gevra om te verduidelik hoekom dit die media se laaste vergadering is.
Burgemeester Melvin Naik lewer sy burgemeestersrede.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'