GEORGE NUUS - Twee gesinne van Rosemoor is dakloos gelaat nadat hul twee houthuise tot op die grond afgebrand het.
'n Man (67) is die volgende dag in hegtenis geneem en het op 'n klag van brandstiting in die hof verskyn. Hy is op borgtog vrygelaat en moet weer op 5 Mei in die hof wees.
Die brand het op Saterdagmiddag 7 April omstreeks 13:30 ontstaan. Die gesinne het huisies gehuur wat langs mekaar agter die hoofhuis op 'n erf in Truterstraat gestaan het. Die brandweer was op die toneel, maar die brand het te vinnig versprei en hulle kon nie die strukture red nie.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die beskuldigde na bewering 'n deur van een van die huisies oopgebreek en 'n brandende papier ingegooi. Dit het aan die brand geslaan en die vlamme het na die huisie langsaan versprei.
Daphne Petersen en haar man, Samuel Muller, albei bejaardes, het in die een huisie gewoon. Petersen was nie tuis toe die brand ontstaan het nie, maar Muller was binne en is net betyds deur 'n jongman van die buurt uit die brandende plek gesleep.
Hul hond, wat in die erf vasgemaak was, het erge brandwonde opgedoen en moes deur die DBV van kant gemaak word.
Daphne Petersen Dinsdagoggend voor haar nuwe huis waaroor sy baie dankbaar is. "Daar is bietjie lekplekke, wat ons sal regmaak. Die munisipaliteit moet nog 'n vloer insit, maar hulle wag vir materiale, so ons kon nog nie intrek nie." Sy en haar man word tans goedgunstiglik in 'n hut in 'n buurvrou se erf geakkommodeer.
'n Geskokte en emosionele Sara Cameron wat saam met haar vriend, Willem Moses, drie kinders (Ashmoodie Swarts (10), Elton-Dean Cameron (20) en Elize Cameron (19), en twee kleinkinders (3 en 1 jaar) in die ander huisie gewoon het, het by 'n vriendin gekuier toe die brand ontstaan het.
Met haar terugkeer, was haar tuiste daarmee heen.
"Ons het alles verloor. My kinders se skoolklere en skoolgoed, als is uitgebrand. Ons het net die klere aan ons lyf," het sy gesê.
Intussen het die George-munisipaliteit twee nuwe strukture in twee agterplase elders in die omgewing vir die twee gesinne opgerig. Raymond Nonzinyana van die behuisingsafdeling was die Saterdag van die brand gou op die toneel om te kyk hoe hulp verleen kon word.
'n Paar lesers wat 'n berig op die George Herald se webwerf gesien het, het ook hulp aangebied. Bure in die omgewing het hulle oor die slagoffers ontferm en hulle ondersteun.
Daphne Petersen (links) en Sara Cameron op die toneel met oorblyfsels van een van die huise in die agtergrond. Foto's: Alida de Beer
Huisraad benodig
Die gesinne benodig nog huisraad, beddegoed en klere. Mense wat wil help, kan vir Lydia bel by 084 231 9717.
Lees 'n vorige aritkel: Gesinne dakloos na brand
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'