GEORGE NUUS - ‘n Grotbewoner van die Kaaimans-omgewing, ‘n man in sy vroeë 30’s, het vroeër vanmiddag vermis geraak toe hy in die see duskant die Kaaimansbrug gaan swem het.
Die man se identiteit word weerhou tot sy naasbestaandes, wat glo in die Kaap woon, oor die voorval ingelig is.
Lede van nasionale seereddingsinstituut (NSRI) in Wilderness, munisipale lewensredders en Eden-911 ambulansdienste het op noodoproepe gereageer. Hulle was heel middag op die toneel. “’n Intensiewe see en kuslyn soektog is voortgesit maar daar is tans geen teken van die vermiste nie,” het NSRI-woordvoerder, Craig Lambinon, gesê. Polisieduikers is om hulp gevra en sal môre, Sondag 3 Januarie, deur die NSRI-Wilderness ondersteun word in hul soektog.
‘n Vriend van die vermiste, wat saam met hom in die grot woon, was ‘n ooggetuie van die gebeure wat vanmiddag omstreeks 13:20 afgespeel het.
Volgens Dion de Swardt het die vermiste en nog ‘n grotbewoner gaan swem in die see duskant die Kaaimansbrug. “Die stroom was vandag ongelooflik sterk, daar het sommer sulke skuimstrepe ingetrek,” het hy gesê. “Twee van ons wat in die grot woon het gaan swem. Die een het in die moeilikheid gekom toe die stroom hom vat en die ander een het probeer om te help, maar helaas. Op die ou end kon die “helper” net-net daarin slaag om self na veiligheid te swem. Dit sou selfmoord wees as ek probeer ingaan het.”
De Swardt het probeer om vir sy vriend wat in die moeilikheid was met handseine te wys dat hy nie die stroom moet veg nie, maar die see moet toelaat om hom in te trek. “Dit is al hoe ‘n mens in so ‘n situasie kon maak. Maar hy was al reeds paniekerig en het niks ingeneem van wat ek of die ander swemmer probeer doen het nie,” het De Swardt gesê.
Volgens De Swardt het hyself, sowel as een van die toeriste die NSRI gebel. “Hulle was blitsvinnig op die toneel, maar ongelukkig het hy [die vermiste] reeds onder die water verdwyn. Alles het so vining gebeur. Binne twintig minute was alles verby.”
Volgens De Swardt het die gebeure die ander swemmer getraumatiseer. “Hy is nou al vir twee ure weg – hy het maar ‘n entjie gaan stap. Hy is baie geskok,” het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'