GEORGE NUUS - Twee broers van Rosedale het gister (18 September) in die George-landdroshof verskyn op dwelmverwante klagtes.
Die Pacaltsdorp-polisie het Vrydagaand tydens ‘n operasie in Rosedale ‘n 29-jarige man aangekeer vir besit van dwelms nadat Mandrax-tablette en tik op hom gevind is.
Sondagmiddag het die verdagte se broer (32) hom by die Pacaltsdorp-polisiekantoor besoek om kos en klere vir hom te gee. Dié pakkies is deursoek, maar geen dwelms is gevind nie.
Die broer het hierna ook versoek om sy broer te sien waarna die beamptes hom na die aanhoudingselle waar sy broer was, vergesel het.
By die selle het die broer na bewering gepoog om sy wolmus deur die tralies aan sy broer te gee.
Die beamptes het die wolmus, waarin die twee sakkies tik en ‘n glasvoorwerp versteek was, afgeneem. Die dwelms was tussen die tossels van sy wolmus versteek.
Kolonel Hans Blaauw, stasiebevelvoerder van Pacaltsdorp, sê alle items wat vir aangehoudenes na die selle gebring word, word deursoek.
“Ons wil die publiek daarop wys dat alles en almal deeglik deursoek gaan word wanneer hulle aangehoudenes kom besoek en pakkies afgee.
"Hulle moet hulle weerhou van die tipe optrede, want sou enige onwettige middels of wapens in hul besit gevind word, sal hulle aangekla en in hegtenis geneem word.”
Blaauw sê die doel van die deursoekings is om enige bedreiging vir sekuriteit te stuit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'