Update
GEORGE NUUS - Hy het geen twyfel dat dit vooraf deeglik beplan is en hul huis dopgehou is nie. Só het Minne (80) Horneman Dinsdag gesê oor die voorval waarin en hy en sy vrou Lia (75) in hul huis in Arbourweg, Glen Barrie, aangeval en van verskeie besittings, waaronder hul motor, geroof is.
Die voorval het laat Dinsdagaand, 2 Augustus, plaasgevind.
Hulle was omstreeks 20:30 besig om televisie te kyk en die egpaar se hond het nog by Minne se voete gelê. Die twee booswigte het blykbaar toegang tot hul erf verkry deur oor 'n buurman se muur te spring.
Volgens Minne het die twee mans maskers en handskoene gedra. Hulle was gewapen met 'n mes en 'n skroewedraaier.
Hy en sy vrou was ewe verbaas om te sien toe die mans in die vertrek inkom. Dit was soos 'n rolprent. "Hulle het vir ons gesê om die hond te gaan toesluit anders gaan hulle hom doodmaak."
Die egpaar is daarna vasgebind.
Volgens Minne het dit verseker gehelp dat hulle kalm gebly het anders sou die booswigte hulle leed aangedoen het. Hulle woon al 15 jaar daar en dit was nog altyd veilig. "'n Mens verwag nie so-iets in dié woongebied nie."
Hy het dit as 'n baie traumatiese ondervinding beskryf en hy beleef ook woede na die voorval.
Gelukkig is hul motor sonder enige skade teruggevind.
Sedert die voorval het die polisie al 'n paar keer besoek afgelê en is besig met 'n ondersoek. Minne het baie lof vir die polisie se optrede.
Sy advies aan mense is om versigtig en waaksaam te wees. Maak seker dat al die deure te alle tye gesluit is.
Vorige artikel: Egpaar in huis oorval
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'