GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Pacaltsdorp het verskeie beserings opgedoen ná daar glo vroeg Saterdagoggend, 27 November, gepoog is om sy voertuig te kaap.
Volgens 'n betroubare bron na aan George Herald, is die slagoffer tussen 03:00 en 04:00 deur minstens 10 gewapende mans in Reigerpark, die nuwe uitbreiding agter Hoërskool Pacaltsdorp, aangeval.
"Die slagoffer het in Reigerpark gestop en 'n man langs die straat gevra of daar 'n oop huiswinkel in die area is. Dis toe dat die verdagte die sleutel uit die slagoffer se motor ruk en weghardloop. Die slagoffer het die verdagte agternagesit waarna minstens 10 ander mans hom [die slagoffer] oorval het," sê die bron.
Hy is van verskeie besittings, insluitende sy selfoon, horlosie, skoene en ander klerasie beroof en met voorwerpe, waaronder kapmesse, aangerand. "Hy is bewusteloos geslaan en sy arm is gebreek," sê die bron.
Sy voertuig is daarna gevandaliseer en die battery is gesteel.
Teen druktyd is daar nog geen terugvoer vanaf die polisie ontvang nie.
Verskeie voorwerpe, waaronder kapmesse, is glo gebruik om die voertuig te verwoes.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'