GEORGE NUUS - 'n Man (70) van Blanco, wat kort voor Kersfees verlede jaar vir beweerde seksuele aanranding van minderjarige kinders in hegtenis geneem is, het Maandag weer in die George-landdroshof verskyn.
Die saak is uitgestel tot 2 April vir verdere ondersoek. Die verdagte is in hegtenis geneem na 'n gemeenskapslid 'n klag by die polisie gelê het.
Die verdagte is kort na sy inhegtenisname in Desember 2018 op borgtog vrygelaat en het teruggekeer na sy woning in Blanco.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word die bewerings deur die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) ondersoek.
"Die bewerings wat deur lede van die gemeenskap gemaak word, word opgevolg deur die GKS en word as ernstig beskou. Ons doen 'n beroep op enige getuies om na vore te kom om beëdigde verklarings in te dien ten einde die aantygings te staaf. Mense word wettiglik verplig om enige vorm van misdaad wat hulle ervaar, aan die naaste polisiestasie te rapporteer," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'