GEORGE NUUS - 'n Man van Glentana, Gabriël Edward (Abri) Steenkamp (52), is op 30 Januarie in die Thembalethu-streekhof gevonnis ná hy vir die afgelope paar jaar verskeie boere en sakemanne in die Suid- en Wes-Kaap met derduisende rande ingeloop het.
Tussen 2014 en 2017 het Steenkamp boorgate aan talle kliënte beloof, maar daar het niks van gekom nie.
In 2014 is hy deur 'n boer van Uniondale betaal om boorgate ter waarde van meer as R50 000 te sink. Volgens Steenkamp se pleitverduideliking was sy masjinerie in daardie stadium stukkend en het hy die geld vir herstelwerk gebruik. Die boorgate is nooit gesink nie.
In dieselfde jaar het Steenkamp 'n boer van Oudtshoorn R120 000 uit die sak gejaag deur dieselfde modus operandi te gebruik. Ander slagoffers, boere van Oudtshoorn, George, Groot-Brakrivier en selfs die Paarl, is daarna deur hom ingedoen met R130 000. In sommige gevalle het hy deposito's aanvaar en dan met die geld verdwyn.
Steenkamp, is aangekla van bedrog met 'n alternatiewe klag van diefstal, na hy onder andere 'n hidroliese pomp gesteel het. Hy het skuldig gepleit op die aanklag van diefstal.
Die hof het die pleit aanvaar en hy is tot 12 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vier jaar vir vyf opgeskort is mits hy homself nie in daardie tydperk aan 'n soortgelyke misdryf skuldig maak nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinrote nuus'