GEORGE NUUS - 'n Barmhartige samaritaan is vroeg verlede maand deur 'n man in die middedorp beroof.
Stefan Fourie van George, was gereeld 'n vriend, wat in die nag skuiling woon, se klere vir hom. Hy gaan haal dit en lewer dit weer vir die man in die middedorp af voor hy gaan werk.
Op Sondag 14 April het Fourie oudergewoonte vir sy vriend by die Go George-busstaanplek in Cradockstraat in die middedorp gewag toe 'n onbekende man hom oorval, die sak met klere gryp en weghardloop.
"Ek het hom agternagesit en die sekerheidswagte geroep om te help, maar hulle het hulself nie veel aan my gesteur nie," vertel Fourie.
Volgens Fourie het slegs een wag gereageer en bloot agter die vlugtende verdagte aangestap terwyl die verdagte in 'n stegie verdwyn het.
"Als het so vinnig gebeur. Ek weet nie eers hoe die ou lyk nie. Ek het dit nie by die polisie aangemeld nie. Ek wil maar net ander mense waarsku om versigtig te wees in die middedorp. 'n Mens is vandag nêrens meer veilig nie."
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, word mense aangemoedig om enige voorval, maak nie saak hoe gering nie, by die polisie aan te meld.
"Ons moedig die publiek aan om enige voorvalle aan te meld om sodoende die polisie te help om misdaadtendense te bepaal," sê hy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'