GEORGE NUUS - Die berugte kruising naby die George-lughawe, waar die R404 en die R102 mekaar kruis, kry glo op hoë vlak aandag na nog 'n noodlottige ongeluk op Sondag 6 September.
'n Voorstel is op die tafel dat 'n sirkel daar gebou word, maar intussen gaan gekyk word hoe die situasie op die korttermyn aangespreek kan word.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het Maandag aan George Herald gesê die aangeleentheid is geopper tydens 'n vergadering verlede Donderdag, 10 September, in George met Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse minster van vervoer en openbare werke.
Beide die R404 en die R102 is provinsiale paaie en onderhewig aan omgewingsimpakstudies.
Volgens Van Wyk het Madikizela hom gevra om alle voorstelle op skrif te sit. Van Wyk het vroeër vandeesweek die brief aan hom gestuur. Korttermynmaatreëls wat oorweeg word sluit in hoë ongeluksone-tekens en waarskuwingsligte wat met sonkrag laai.
Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse minster van vervoer en openbare werke.
Grondpaaie
Tydens die vergadering het die swak toestand van sommige grondpaaie in die gebied ook ter sprake gekom. Madikizela het ook in die verband vir Van Wyk gevra om dit in 'n brief aan hom uiteen te sit. Landbou speel 'n groot rol in die plaaslike ekonomie en die Geelhoutboom-grondpaaie moet dringend aandag kry.
Paaie moet hergruis word en die probleem is dat gruis oor lang afstande hierheen gebring word met groot koste implikasies.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'