Ondanks gure weersomstandighede het sowat 300 Georgiete, drawwers van omliggende dorpe en selfs van Kaapstad en Gauteng deelgeneem.
Die munisipaliteit het die pretloop in samewerking met al die verskillende atletiekklubs en verskeie borge in George aangebied.
Nadat die wedloop in 2013 begin het as 'n 5 km-pretloop het burgemeester, Charles Standers, hierdie jaar besluit om die wedloop uit te brei na 'n 10 km-padwedloop. Standers beoog om in die toekoms selfs groter te gaan deur 21 km sowel as 'n 42 km-wedlope aan te bied.
Standers en raadslede Melvin Naik en Isaya Stemela het self aan die pretloop deelgeneem terwyl onderburgemeester, Daniel Maritz, die 10 km-wedloop aangedurf het.
Lloyd Bosman, topatleet van Nedbank-atletiekklub het die 10 km-wedloop in 'n baie goeie tyd van 30 minute 32 sekondes gewen. Die vrouewedloop is deur die jong Merida Leen van die besoekende Mosselbaai Har-riers gewen in 'n tyd van 38 minute en 3 sekondes.
George-munisipaliteit het die mede-organiseerders, Outeniqua Harriers, Rainbow-atletiekklub, New Balance Multisportklub, Nedbank-atletiekklub sowel as Coastline-atletiekklub bedank vir hul deelname. Die borge was PrimiPiatti, McDonald's, Panarotti's, Let's Go Bowling en Sanitech.
Burgemeester, Charles Standers (agter middel), saam met verteenwoordigers van die georganiseerde atletiekklubs sowel as van die verskillende kategorie-wenners.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'