REDAKTEURSKOLOM DEUR LIZETTE DA SILVA - Ai, hoe mooi begin die sypaadjies in Pacaltsdorp nou weer lyk.
Ek ry Dinsdagmiddag deur die strate naby Pacaltsdorp Primêr en sien die spanne werkers is besig om die bosse onkruid langs die voetpaadjies en die paaie te verwyder. En ja, die oop vlaktes lê nog besaai met papiere en plastiek, maar daar is 'n verbetering en daarvoor sê ek as inwoner baie dankie.
Ons as inwoners moet onthou, terwyl die George-munisipaliteit die paaie, sypaadjies ensovoorts in stand moet hou, en verantwoordelik is vir vullisverwydering, het ons ook 'n rol om te speel. Ons moet ophou om George te bemors.
Sit jou vullis in 'n swart of blou sak en sit dit op die gepaste dag uit sodat die vullistrokke dit kan laai.
Leer julle kinders om nie papiere, plastiek (klein of groot) en ander vullis sommer in die loop (of ry) in die pad te gooi nie.
Daar is ook 'n paar inwoners in die omgewing van Smartie Town en Seaview wat onwettige rommel stort in Proteastraat en die gangetjie in Seaview.
Julle moet julle skaam dat julle julle vullis voor en langs ander mense se huise gaan gooi.
Dit lyk absoluut morsig by die gangetjie aan die kant van Hibiscusstraat en nou het daar iemand op die hoek van Hyacinthstraat en Proteastraat ook begin stort.
Julle wat so onwettig stort, is plein morsig en ek hoop julle word op kamera gevang en groot boetes opgelê deur die munisipaliteit. Jy, morsjors, dink niks van die inwoners by wie se huise jy onwettig kom stort nie.
Julle kan ook nie sommer op enige stuk oop grond julle vullis gaan stort nie.
Nou goed, dalk het almal nie vervoer tot by die stortingsterrein nie of dalk voel almal nie veilig om daarheen te gaan nie.
Hier kan die munisipaliteit help met groot skips op sekere plekke in die woonbuurt. Maar ai, dan kry jy weer daai …(ek sukkel om 'n woord te kry wat gepas en aanvaarbaar is vir koerantgebruik), wat wragtig hulle vullis reg langs die skip gooi. All in all, dink ek die... (ek soek nog steeds na daai gepaste woord), moet vasgevat word en stewige boetes opgelê word.
So kom, ons, die inwoners wat goed keelvol is vir die... (ek het nog nie 'n gepaste woord gevind nie) maak seker ons vang hulle op kamera en rapporteer hulle by die George-munisipaliteit se afdeling vir omgewingsake by 044 802 2900, of by hulle kantore by Meadestraat 82.
Hulle moet deur die bank in die munisipale hof vervolg word.
George Herald sal elke morsjors (die gepaste woord wat ek gevind het, kan ek nie publiseer nie!) wat skuldig bevind word se foto in die koerant publiseer.
Almal het deesdae selfone, so kom ons maak hulle famous!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'