Update
GEORGE NUUS - 'n Kleuter (4) van Maraiskamp in Conville, is in die sorg van sy grootouers geplaas ná sy ma, Mariesa Josephine Juries (24), dood is weens beserings wat sy op Woensdag, 23 Februarie in 'n motorongeluk op die N9 (Langkloofpad) opgedoen het.
Juries is in die ambulans op pad hospitaal toe oorlede.
Die ongeluk waarin vyf mense, insluitend die kleuter betrokke was, het omstreeks 10:45 sowat 50 km vanaf George naby die afdraai na Eseljacht-plaas gebeur.
Volgens 'n ooggetuie wat met George Herald gepraat het, het die bestuurder van die wit VW Golf waarin Juries en haar kind 'n geleentheid geneem het, glo beheer oor sy voertuig verloor en voor 'n aankomende Ford Ranger-bakkie beland. Die Golf was vanaf George in die rigting van Uniondale onderweg.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die ongeluk bevestig en gesê 'n saak van dronkbestuur word teen die bestuurder van die VW Golf ondersoek.
"Hy is deur die polisie op die toneel in hegtenis geneem en na die George-hospitaal geneem waar 'n bloed-/alkoholtoets gedoen is. Hy is later vrygelaat en gedagvaar om sy eerste hofverskyning op 10 Augustus te maak," het Pojie gesê.
Die bestuurder van die bakkie het ligte beserings opgedoen.
Pogings deur George Herald om met die familie van die oorledene kontak te maak was teen druktyd onsuksesvol.
Mariesa Josephine Juries (24) is tragies oorlede in 'n ongeluk waarin sy en haar seun, betrokke was.
Previous articles:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'