GEORGE NUUS - Dit gons oor die skielike gewildheid van rots- en strandhengel in George en die Tuinroete.
Nadat strenger beperkings oor besoeke aan strande en die see in Desember aangekondig is, het talle mense met hengelgerei en seehengellisensies by strande begin opdaag.
Onder hulle was ervare hengelaars, maar ook duidelik nuwe toetreders tot die sport.
Na verneem word het talle mense ook by poskantore navraag gedoen om seehengellisensies teen R76 elk te koop. Daar is selfs beweer dat sommige poskantore nie genoeg vorms gehad het nie.
Verteenwoordigers van sakeondernemings wat seehengelgerei verkoop, het bevestig dat die aanvraag gestyg het.
Hennie Kleyn, bestuurder van Xtreme Fishing in George, sê hulle het baie meer navrae gehad as in die vorige jaar en stok-en-katrolkombinasies was veral gewild.
Volgens Rudy Hartzenberg, eienaar van Reel Run Fishing in George, was dit duidelik dat daar mense is wat visstokke koop om strand toe te kan gaan.
Kevin Fuchs, bestuurder van die hengel-afdeling van Wildman Hunting& Outdoor George, sê hoewel minder mense na die gebied gekom het, was daar baie verkope. Fuchs, wat self mededingend hengel, reken die nuwe verskynsel kan beslis nuwe bloed op die lang termyn by die sport betrek.
Die eienaar van Tackle Shack in Mosselbaai, Anthony Pretorius, sê baie meer mense wou lisensies koop en begin hengel en daar was 'n groter aanvraag vir goedkoper gerei as in die verlede.
Thomas Heath, voorsitter van die Edenkushengel-federasie, meen dis moontlik dat die getal deelnemers aan hengelkompetisies na dese sal toeneem. "Ons verwelkom dit as meer mense deelneem."
Johan Kruger, woordvoerder van die SA Poskantoor, bevestig dat hulle die voorraad aansoekvorms moes aanvul weens die toename in aanvraag na visvangpermitte, wat ook skubaduik, spieshengel en die uithaal van skulpvis dek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'