GEORGE - Verkeersbeamptes hier het ‘n groot skok gekry toe hulle tydens ‘n roetine-ondersoek van ‘n minibustaxi se sleepwaentjie op ‘n kis met ‘n lyk afkom.
Die ontdekking is verlede Donderdagaand by die George munisipale toetsstasie in Hiberniastraat gemaak met die afskop van die provinsiale verkeersowerhede se Paasnaweek-padblokkades.
Voordat die sleepwaentjie deur die toets gesit is, moes alle passasiers uitklim en bagasie afgelaai word. Dit was toe dat die kis onder die tasse ontdek is.
Die oorledene se familie, wat glo al die nodige papiere gehad het om die lyk so te vervoer, was onderweg na die Oos-Kaap om hom daar te gaan begrawe. Dit blyk dat die familie nie genoeg geld gehad het om die lyk te laat vervoer nie en hulle het besluit om dit maar sommer self te doen.
55 voertuie van pad gehaal
Sowat agt voertuie is binne ‘n uur nadat die padblokkades begin is onpadwaardig verklaar.
Die padblokkades is regoor George op belangrike paaie en die snelweg gehou in samewerking met munisipale verkeer en die polisie.
Sigbare polisiëring is oral gehandhaaf met veral dronk bestuurders en onpadwaardige voertuie in die owerhede se visier.
Met die George Herald se besoek aan die munisipale toetsstasie verlede Donderdagaand kort na 23:00 was sowat agt voertuie, ‘n paar minibustaxi’s inkluis, reeds weens defekte van die pad gehaal.
Die pendelaars, waaronder ‘n paar vroue en kinders wat in die taxi’s was, het buite gestaan en is later die nag met ander vervoer weggeneem.
‘n Paar jong mans wat in ‘n taxi van Mosselbaai was, was nie so gelukkig nie en is deur hul bestuur-ders net daar gelaat. Hulle moes sak en pak in Hiberniastraat opstap op soek na ‘n rygeleentheid tot by hul bestemmings.
Volgens mnr. Gerald Becker van provinsiale verkeer is 213 voertuie by die padblokkades afgetrek en 89 na die toetsstasie verwys.
Altesaam 55 voertuie is van die pad afgehaal - ses vragmotors, drie swaar sleepwaens, 17 busse, vier bakkies, 13 ligte sleepwaens, 22 taxi’s en vier ligtevoertuie.
Die meeste van die voertuie se foute is op die perseel by die toetsstasie deur werktuigkundiges reggemaak. Die voertuie is weer deur die toets gesit en is toegelaat om hul rit voort te sit.
Busse van Interkaap en City to City was onder dié wat hul padwaardigheidstoets geslaag het terwyl ‘n midi-bus van ‘n plaaslike taxi-eienaar asook twee busse van SA Roadlink van die pad afgehaal is. Remme en veringsprobleme is op laasgenoemde gevind.
‘n Sleepwaentjie van Interkaap is ook weens remprobleme onpadwaardig verklaar.
Na wat verneem word het George se burgemeester, mev. Mercia Draghoender, Goeie Vrydagoggend vervoer aan die passasiers wat op die SA Raodlink-busse was voorsien om kos te gaan koop nadat hulle teen 08:00 steeds by die toetsstasie gestrand was. Sy het ook ‘n mobiele toilet laat aflaai.
Volgens mnr. Benzil Ramati van provinsiale verkeer het hy voor 07:00 op die selfoon van een van die busbestuurders met ‘n operateur van SA Roadlink in Johannesburg gepraat wat hom verseker het dat alternatiewe vervoer met ‘n plaaslike busmaatskappy vir die passasiers gereël is.
Na 08:00 was die ontevrede passasiers steeds by die toetsstasie - met geen toiletgeriewe nie, want die stasie was gesluit. Dit was toe dat hulle hul lot by Draghoender bekla het.
Die passasiers is eers 14:00 by die toetsstasie weg.